Local sportSchools

Leeus van die Noorde doen hul naam gestand

Die onderwysers, ouers, borge, atlete en sangers van Hoërskool Hans Strijdom het die 60ste Bosveld Interhoër op Saterdag 24 Februarie aangebied en gesorg dat dit een sal wees om te onthou.

Die ‘Leeus van die Noorde’ soos hulle alom bekend staan, het hul staal gewys op die sportveld en op die pawiljoen.

“Die 60ste Bosveld-interhoër was die hoogtepunt op die Hansies se kalender en ek wil graag die gemeenskap van Mookgophong, borge, ouers en ondersteuners wat hierdie fenominale projek ondersteun het, bedank vir hulle bydrae tot die sukses van die dag. Ek wil in besonder dankie sê vir Lebu van Heerden en Lizel Swart en hulle komitee wat aan die stuur gestaan het van die organisasie,” het Rinus de Jager skoolhoof van die Hansies gesê.

Die kompetisie was fel maar daar het deurgaans ’n feestelike atmosfeer geheers.

“Die seisoen het op ’n hoogtepunt vir die Hansie afgesluit en ons sien uit na die sportsoorte van die winterseisoen, wat nou afskop,” het Van Heerden, adjunkhoof sport gesê.

Hoërskool Hans Strijdom het ondanks hulle vele take as gasheerskool ’n derde plek behaal in die dirigente se opkoms, die senior- en junior seuns het algeheel tweede gekom en die senior meisies derde. Die hoogtepunt was egter toe hulle weereens die gesogte prestasiebeker met 98% verower het. Die o.17 seuns se aflosspan het ’n rekord verbeter wat reeds 38 jaar staan met 43,7 s. Die Hansies eindig algeheel in die derde plek.

Afgesien van al die reëlings rakende die sport was dit ook ’n reuse taak om vir die bykans 5000 besoekers kos te voorsien, Maar die Hansie-ouers het hul puik van hul taak gekwyt. Na afloop van die dag het hul bereken dat 800 boepensbroodjies (jaffels), 1000 hamburgers en net soveel ribburgers met sorg gemaak is. Dit is bo en behalwe die lekkergoed en skyfies wat baie gewild was. Die koue koeldrank en waterstalletjies het egter die meeste aftrek gekry op die snikhete warm dag.

“Ons sien uit om volgende jaar die byeenkoms by Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi by te woon,” het De Jager gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button