Warries se wintersportspanne maak litte los by fees
Sport het die afgelope naweek hoogty gevier by Hoërskool Warmbad.
Die Warries het op Vrydag, 1 Maart ’n sportfees gehou wat skole in staat gestel het om hul finale proewe en afrondingswerk te doen voordat die wintersportseisoen in alle erns begin.
Spanne van Hoërskool Eric Louw in Musina, Pepp’s High School en Capricorn High School in Polokwane en Hoërskool Brits het kom kragte meet in rugby, hokkie en netbal.
Thinus van der Heever, die sportorganiseerder van Hoërskool Warmbad, het gesê:
“Die afgelope naweek se sportfees is die begin van nog groot geleenthede. Die idee van die naweek was om ons afrigters en spelers in rugby, netbal en hokkie die geleentheid te gee om teen ander skole proewe te speel en om sodoende onsself voor te berei vir die seisoen wat vir ons voorlê.”
Hy meen daar is verseker baie potensiaal vir die seisoen en “ons sien met groot opwinding uit daarna”.
Besoekers was dit eens, die Warries se gasvryheid en goeie sportmangees maak van hul puik gashere en besoekers sien daarna uit om weer in die Bosveld te kom kuier.