Karatekas ryg die medaljes in
Die karatekas wat in Namibië gaan deelneem het, het 25 medaljes in totaal ingeryg.

Die Waterberg-karateklub se spanlede is terug van die JSKA Development Championships wat vanaf 4 April tot 7 April in Swakopmund, Namibië, plaasgevind het. Met groot opgewondenheid het die gekose karatekas die MTC Dome betree om Suid-Afrika met trots te verteenwoordig.
Uit die 14 inskrywings het hul 25 medaljes verower waarvan nege brons- en tien silwermedaljes was. Ses van die deelnemers het met ’n goue medalje teruggekeer. Hulle is Lizerie Jooste (kata); Melissa Bloemhof (goud vir kata en kumite); Danie Heyns (goud vir kata en kumite) en Brandon Bloemhof (shotocup). Elf spanlede het elk twee medaljes verower.
Die spanlede het opgedeel en van hul is per vliegtuig Namibië toe, terwyl ander met ’n bus die lang tog aangepak het. enkele van die karatekas het saam met hul ouers in hul eie voertuie gereis. Die spanlede het Vrydag 5 April in Swakopmund bymekaar gekom. Om die newe effekte van die lang reis tee te werk het die spanlede eers ’n bietjie die Namibiese duine gaan tem. Die “dune surfing” soos dit genoem word was hope pret en ’n goue herinneringe wat hul altyd sal koester. Daarna het hul ’n vinnige duik in die see gemaak, maar baie gou besef die water aan dié kuslyn is baie koud. Die res van Vrydag het die span Swakopmund verken.
Saterdagoggend het hul met groot geesdrif opgedaag vir die kampioenskap en het hul afrigters net weer die erns van die kompetisie aan hul voorgehou. Die span het geweet hul verteenwoordig nie net hul klub nie maar ook Suid-Afrika.
Sensei Nico von Stade en Sensei Cherneé von Stade het uitgeblink in die “kumite” afdeling van die “shotocup” kompetisie. Die jonger spanlede het die goeie voorbeeld gevolg en verskeie medaljes gewen.
Alhoewel die karatekas Sondag uitgeput teruggekeer het na Suid-Afrika, het hul by hul aankoms gesê dat hul gereed is vir die volgende kompetisie.
Monique von Stade, die spanbestuurder, het aan Die Pos gesê dat hulle dankbaar is vir die gemeenskap se ondersteuning wat elke karateka se deelname moontlik gemaak het.
“Sonder die ondersteuning van die gemeenskap sou nie al die spanlede die geleentheid gehad het om in Namibië te gaan deelneem nie.”