Local sportNewsSportSport

AB kry hoogste eer in krieket

Die besondere talent van AB de Villiers, boorling van Bela-Bela en oud-leerder van Laerskool Warmbad, ken geen perke nie.

Abraham Benjamin de Villiers, of soos hy wêreldwyd bekend is, AB, het onlangs die uitsonderlike eer te beurt geval om in die Internasionale Krieket Raad (IKR) se Saal van Roem (Hall of Fame) opgeneem te word.

Dié uitsonderlike prestasie word toegeken aan spelers wat internasionaal mylpale behaal het en wat as legendes van die spel gereken word.

De Villiers se toets debuut was in 2004 teen Engeland. Aan die einde van 2021 het hy na ’n roemryke loopbaan, sy uittrede uit enige vorm van krieket aangekondig. Hy word gereken as die beste krieketspeler van sy generasie en was al drie keer aangewys as die IKR se Een Dag Internasionale Krieketspeler van die Jaar (2010, 2014 en 2015).

Die IKR het die Hall of Fame in 2009 ingestel in samewerking met die Federasie van Internasionale Krieket Verenigings en daar is aanvanklik 55 spelers in die elite ererol opgeneem.

Van die grootste name in wêreld krieket is op dié ere-rol soos: Curtly Ambrose van Wes-Indies, Alan Border van Australië, Ian Botham van Engeland, Kapil Dev van Indië, Imran Khan van Pakistan en Aravinda de Silva van Sri Lanka is slegs enkele van die internasionale spelers wat op die ererol pronk.

Daar is tans 115 name op krieket se hoogste ererol en AB de Villiers sal ook die rol nou deel met ses ander Suid-Afrikaanse sterre, naamlik Allan Donald, Aubrey Faulkner, Jacques Kallis, Graeme Pollock, Shaun Pollock en Barry Richards.

AB de Villiers was ’n leerder van Laerskool Warmbad en het sy hoërskoolloopbaan aan die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria voltooi. Hy het daarna aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en vir die Titans as hul spesialis kolwer en paaltjiewagter diens gedoen.

Sy pa, ook AB de Villiers, was jare lank ’n geliefde dokter in Bela-Bela. Sy ma Millie, wat self ’n kranige tennis- en gholfspeler is, het baie duisende kilometer afgelê om die jong AB by krieketafrigters in Pretoria te kry. Hy het egter groot erkenning vir sy Laerskool-afrigters en sê hul het ’n stewige grondslag gelê.

Laerskool Warmbad het ook hul skool krieketveld na hom vernoem.

In ’n telefoniese gesprek met Die Pos het AB se pa, AB de Villiers (snr), gesê dat dit ’n ongelooflike eer en ervaring is, en dat AB gesê het dat die toekenning uit die bloute gekom het en hom skoon geboul het.

“Dit was totaal onverwags, maar ’n enorme eer.” Sy ma, Millie sê hulle was baie verheug.

Volgens haar heg AB nie verskriklik waarde aan verering nie, maar hy is opreg dankbaar teenoor die IKR vir die benoeming.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button