Nylies wen by Limpopo-kampioenskap
Die atlete van Hoërskool Nylstroom het uitstekend presteer by die Limpopo-skole atletiekkampioenskap wat op Saterdag, 8 Maart, by die Universiteit van Limpopo in Polokwane, gehou is.

Diano Moses, het in die seuns o.15-afdeling skoonskip gemaak in die 100 m hekkies en 300 m hekkies items. In die meisies o.15 het Soné Crafford eerste gekom in die 1500 m-wedren. Sy het ook ’n derde plek behaal in die 800 m.
Vir die vinnige Amy-Jany de Villiers was die 100 m-naelloop vir meisies o.17, net ’n oefenlopie. Sy het haar teenstaanders met gemak gewen. Shirley Maboa is nog ’n Nylie wat eerste plek behaal het in die meisies o.19 400 m-hekkies. Haar tweede goue medalje was vir die 100 m hekkies item wat sy blitsvinnig afgelê het.
Die seuns o.19-atlete het ook hul staal gewys. Tiaan Steffen behaal eerste plekke in diskus en gewigstoot. Sy spanmaat, Lethabo Makhubela het ’n derde plek behaal in die 400 m hekkies.
Die finale span wat Limpopo by die SA-kampioenskap gaan verteenwoordig, moet nog aangekondig word.