Ter viering van Vrouemaand

Vrouwees: die rots van elke gesin
Byna 20 000 Suid-Afrikaanse vroue het op 9 Augustus 1956 kragte saamgesnoer en na die Uniegebou in Pretoria opgeruk om teen die destydse paswette te betoog.
Die vroue het ‘n halfuur lank in doodse stilte voor die kantoor van die destydse eerste minister, JG Strydom, gestaan. Toe begin hulle ‘n lied sing wat spesiaal vir die geleentheid geskep is: “Wathint’Abafazi, Wathint’inbokodo. As ‘n mens dié woorde in Afrikaans vertaal beteken dit: “Noudat jy die vroue aangeraak het, het jy ‘n rots getref.”
Almal ken daardie een vrou wat ‘n rots in haar gesin, familie, gemeenskap of land is. Vroue wat nie bang is om die beroepswêreld van mans te betree nie, of wat die politieke bal sonder vrees hanteer of wat in haar gemeenskap uitreik en liefdadigheidswerk verrig.
Daardie rots kan ook ‘n ma wees wat altyd daar is vir haar man en kinders. Wat daagliks hul kosblikke met liefde en toewyding vol gesonde voedselhappies pak.
Carina Bester het meer gaan uitvind oor vier Suid-Afrikaanse vroue wat in verskillende seisoene van hul lewe hul stempel in hul onderskeie beroepsvelde duidelik afgedruk het.
Kyk ook na die spesiale Augustus-aanbiedinge op dié blad wat spesiaal vir vrouemaand beplan is.

HELEN SUZMAN (1917-2009)
Helen Suzman was ‘n merkwaardige vrou.
Sy is een van Suid-Afrika se bekendste vroue in politieke kringe en was ‘n groot anti-Apartheidsaktivis. Haar loopbaan in politiek het in die vyftiger jare begin en sy was bekend vir haar sterk kritiek teen die Nasionale Party se Apartheidswette.
Sy was vir 36 jaar ‘n Lid van die Parlement (LP) waarvan sy vir ses jaar die enigste vroulike-LP was. Al het sy in 1989 afgetree, was sy steeds aktief by Suid-Afrikaanse politiek betrokke.
Suzman het haar veral vir menseregte beywer.
Buiten haar loopbaan in politiek was sy ook ‘n lektor aan die Universiteit van die Witwatersrand, waar sy ekonomiese geskiedenis aangebied het.
Die Helen Suzman-stigting is in 1993 gestig en gaan vandag steeds voort met haar werk. Sy het in 1993 haar outobiografie, In no Uncertain Terms: a South African View, gepubliseer.
Bronne: sahistory.org.za & hsf.org.za

MARIA RAMOS
Maria Ramos (59) is sedert 2009 ABSA se hoof- uitvoerende beampte (HUB).
Hierdie ystersakevrou was ook Transnet se HUB en voorheen die direkteur-generaal van die land se nasionale tesourie.
Sy het ná skool by Barclays Bank in Vereeniging begin werk om vir haar studies te betaal. Sy het vasgestel dat Barclays ‘n studiebeurs aan ‘n student toeken, maar dat net mans aansoek mag doen. Sy het onderhandel en daar is aan haar gesê as sy haarself bewys, kan sy in aanmerking kom vir hierdie beurs. Ramos het die Barclays Bank Graduate Scholarship in 1983 ontvang en haar diploma in bankwese behaal.
Sy het verder gestudeer en haar BAHons.- en MA-graad in ekonomie verwerf.
Fortune Magazine het haar in 2017 aangewys as 16de van die 50 invloedrykste vroue buite die Verenigde State van Amerika. Sy was ook die enigste vrou van Afrika op dié lys.
Bronne: Fortune Magzine, IOL, britannica.com

TATJANA SCHOENMAKER
Tatjana Schoenmaker (21) is Suid-Afrika se nuutste swemsensasie en het vroueswemmers van Suid-Afrika tydens die Statebondspele in Australië in die kollig geplaas.
Sy is ‘n student aan die Universiteit van Pretoria en is deel van dié universiteit se swemspan.
Sy het tydens vanjaar se Statebondspele naamgemaak deur twee goue medaljes te wen en rekords te verbeter.
Schoenmaker het goue medaljes in die 100 m- en 200 m-borsslag gewen en in die 200 m-finaal die Afrika-rekord vir hierdie item verbeter.
Sy het ook tydens die Statebondspele die eerste Suid-Afrikaanse vroueswemmer in agt jaar geword wat ‘n medalje gewen het.
Schoenmaker het Penny Heyns se rekord van 1999 tydens dié spele verbeter.
Bronne: The Citizen, IOL, SwimSwam

HANNA GROBLER
Hanna Grobler (36) is nie net ‘n bekende Afrikaanse aktrise nie, maar is ook bekend vir haar betrokkenheid by liefdadigheid.
Sy is bekend vir haar rolle in die sepie Getroud met rugby en die films Platteland en As jy sing.
Die Hanna Charity & Empowerment Foundation, waarvan sy die stigter is, is in 2008 as ‘n niewinsgewende organisasie gestig. Hierdie organisasie ondersteun arm gemeenskappe met sopkombuise, klerebanke, vaardigheidsontwikkeling, werkskepping, sosiale en sielkundige ondersteuning. Hulle skenk persoonlike aandag aan gesinne en bestuur die skenkings en hulp dat dit direk na die hulpbehoewendes gaan sodat hulle met waardigheid kan leef en hul potensiaal bereik.
Grobler het ‘n paar jaar gelede ongeveer ‘n jaar in die vermaakbedryf afgeneem om op liefdadigheid te fokus. Sy beskou liefdadigheid as haar roeping.
Bronne: hannacharity.org, Sarie.com