MOTORPOS: Kyk gerus uit vir dié nuwe nutsvoertuie
Toyota het besluit om ons met die Terios se kleinkind — die Rush — te bederf.

Enige iemand wat al ’n Daihatsu Terios bestuur of besit het, sal getuig van die betroubaarheid en kwaliteit van hierdie gesinsvriendelike nutsvoertuig.
Vir dié wat weet dat die Terios eintlik nog altyd ’n Toyota was, is hierdie motor se puik reputasie natuurlik geen verrassing nie. Daihatsu het egter al ’n paar jaar gelede opgepak en ons mark verlaat. Nou het Toyota besluit om ons met die Terios se kleinkind — die Rush — te bederf.
Die langerige sewe sitplek is eerder in die klas van die Honda B-RV as die kleiner en goedkoper Ford Ecosport, maar met Toyota se handelaarsnetwerk en hul vermoë om die kol met hul produkte te tref, is dit raadsaam om ’n plek op die waglys te bespreek.
Met nutsvoertuie wat soos soetkoek verkoop, het Hyundai bevestig dat hulle die Kona binnekort hier gaan loslaat. Die Kona is ’n klein nutsvoertuig wat met Toyota se C-HR sal meeding.
Kopers wat van ’n meer gewaagde ontwerp hou, maar steeds die behoefte het na die praktiese karakter van nutsvoertuie, kan gerus vir hierdie nuweling uitkyk.