Kies ’n sleepvoertuig wat werk vir jou
Met die wye keuse van voertuie wat op ons mark beskikbaar is, is daar wel ’n paar faktore wat in ag geneem moet word met die oog op ’n sleepvoertuig.

Hier in die 80’s rond was 250 Nm meer as genoeg om ’n Jurgens-karavaan met gemak see toe te sleep vir ’n luilekker somervakansie.
Chevrolet se gewilde sessilinder met 4.1iter enjin het 258 Nm gelewer en die Ford Essex 3.0 liter V6-enjin net 254 Nm. Dit was twee van die gewildste enjins van daardie tyd en niemand kon droom dat daar eendag ’n behoefte aan voertuie soos die Amarok sou ontstaan nie.
Die Amarok se V6-dieselenjin lewer ’n allemintige 550 Nm, meer as ’n Commodore en ’n Cortina saam. In Europa is die klein- en middelslagnutsvoertuie gewilde sleepvoertuie. Die Nissan X-Trail en Renault Duster-klas voertuie is vir hulle heeltemal sterk genoeg.
Met die wye keuse van voertuie wat op ons mark beskikbaar is, is daar wel ’n paar faktore wat in ag geneem moet word met die oog op ’n sleepvoertuig. Hoewel dit nie wys is om ’n motor te kies suiwer op grond van sleepvermoë nie, moet voornemende kopers darem die volgende in ag neem.
- Enjin: Turbodiesels lewer hope wringkrag, wat presies is wat nodig is vir sleep. Wanneer ’n groot, swaar karavaan gesleep word, moet daar genoeg wringkrag wees wat teen redelik lae toere beskikbaar is. Ford se 3.2-diesel spog met 470 Nm wat enigiets kort van ’n vragtrein behoort te sleep.
- Ratkas: die moderne outomatiese ratkaste is die beste vir sleepwerk. Hulle het ’n effek wat wringkrag vermenigvuldig en het oor die algemeen meer ratverhoudings as vroeër. Die CVT en dubbelkoppelaarratkaste is egter nie bedoel vir swaar sleepwerk nie. Die koppelaar van ’n handrat kan skade kry weens ’n baie swaar vrag of oorskakeling wat nie seepglad verloop nie.
- Onderstel: die leerraam van bakkies en sommige nutsvoertuie bied ’n besonder sterk basis vir ’n swaar vrag.
- Aandrywing: met die bykomende massa op die agteras is agterwielaandrywing meer geskik vir sleepwerk.
Met die string moderne elektroniese hulpmiddels wat deesdae beskikbaar is, moet kopers, indien die begroting dit toelaat, probeer om ’n sleepvoertuig aan te skaf wat met soveel moontlik van die elektroniese “katoeters” spog. Stabiliteitbeheer en sleepwa-swaaibeheer is twee van die vernaamste hulpmiddels.
Dubbelkajuite en die stewige nutsvoertuie soos Everest en Fortuner kan almal sterk aanbeveel word.
• Paul Smith is ’n motorliefhebber, gesinsman en eienaar van die Spur op Bela-Bela.