Youtube is die goedkoopste leermeester wat daar is
Toe ek begin wonder oor ’n geringe werkie op ’n motorfiets se kleppe? Ja daar is wrintie iemand wat gedink het om dieselfde werkie te doen terwyl hy homself afneem!

Daar is dikwels ’n werkie in of om die huis, of dalk ’n ietsie wat stukkend is op ’n voertuig, wat net te klein is om na ’n motorwerktuigkundige toe te neem.
Dalk speel die beursie ook nie saam nie of miskien is dit so eenvoudig dat ’n mens sal skaam kry om ’n gekwalifiseerde persoon te vra om jou onkunde te bewys.
Dit is presies wanneer daar op Youtube gaan kyk moet word. Ek wou onlangs ’n ou Mercedes se spieëltjie afhaal, maar kon glad nie uitwerk wat ek waar moet losdraai nie. Toe ek Youtube vra, is daar wraggies ’n man in België of êrens wat op dieselfde model wys hoe om die spieëltjie los te knip.
Toe ek begin wonder oor ’n geringe werkie op ’n motorfiets se kleppe? Ja daar is wrintie iemand wat gedink het om dieselfde werkie te doen terwyl hy homself afneem! Die ander motorfiets se vurke wat olie lek? Natuurlik, dit is reeds opgeneem.
Die swembad se filter wat vervang moet word? Dit is ook daar. Toe ek skaam-skaam nie ’n motor se ligte kon stel of selfs die oliemaatstok kon kry nie, was daar ook instruksies.
Hoe gering ook al, die lesing is gereed. Loer gerus nog vanaand by Youtube-universiteit in — jy leer dalk net iets.