Ruiters sit stewig in die saal tydens rit
Nie die ysige koue óf uitmergelende afstande kon twee ruiters van Modimolle en hul perde stuit nie.

Marietjie van der Merwe en haar perd, Deo Gratias Zeena, en die 11-jarige Lize Stapelberg op Deo Gratias Yadviqa, het van 2-4 Julie aan die jaarlikse nasionale uithouritkampioenskap in Fauresmith deelgeneem. Albei het die uithourit voltooi. Lize is ’n gr. 6-leerder aan die Waterbergskool vir CVO in Modimolle.
Volgens Van der Merwe het daar sowat 300 perde weggespring, maar slegs 164 kon die 206 km-lange rit wat oor drie dae gehou is, voltooi.
“Die perde word in die drie dae altesame nege keer deur veeartse ondersoek. Daar word gekyk na die perd se hidrasie, dermklanke, hartspoed en of daar enige mankheid is. Die welstand van die perd kom altyd eerste,” het sy gesê.
Een van die rit se uitdagings is dat die versorgers na elke been van die rit moet oppak en skuif na die volgende ondersoekpunt sowat 25 km verder weg. “Al is dit die heeltyd ’n haastige vertrek van punt na punt, is dit ook kuiertyd en lekker saamwerktyd. Ons het saans om die kampvure beplan aan die volgende dag se rit en mekaar raad gegee,” het Van der Merwe vertel.
Tussendeur word daar met die perde gestap en seker gemaak dat hulle genoeg komberse in die stalle het.
“Die rit bied uitdagings aan die ruiter, perd en die versorgers en net dié met die meeste deursettingsvermoë voltooi die wedloop. Vanjaar was geen uitsondering nie en veral die veeartsondersoeke wat teen vriespunt plaasgevind het, het almal aan die bibber gehad. Ysige wind en reën het mens en dier se uithouvermoë getoets.”
Die reën het gelukkig opgeklaar en die ruiters kon teen Dinsdagoggend 2 Julie droog wegspring. Die temperatuur het gewissel tussen -3ºC met die wegspring en 18ºC gedurende die dag. Volgens Van der Merwe het baie perde reeds die eerste dag uitgeval weens mankheid. “Die terrein waaroor die perde beweeg het, het konsentrasie en fiksheid geverg. Rowwe klippe en walle het die roete bemoeilik en ruiters moes kophou om die woelige perde op die beste en veiligste pad te stuur.”
Dit was Lize en Yadviqa se eerste deelname aan die Fauresmith-rit en hulle het ’n negende plek in die kinderruiterafdeling behaal.
Die Limpopo-uithouritunie het ’n liggewig- en junior span ingeskryf.
Van der Merwe het in die liggewigspan deelgeneem. Ongelukkig het die span te veel ruiters oor die drie dae verloor en kon hulle nie ’n plek behaal nie.
“Die rit toets jou, maar die samesyn en spangees dra jou en bring jou elke jaar terug om weer te probeer,” het sy gesê.