Die ‘groot skrik’ agter die stuurwiel
Ek weet nie hoe ander mense skrik nie, maar ek weet hoe ék reageer wanneer ek skrik.

As ek skrik terwyl ek bestuur — en ek bedoel gróót skrik, soos daardie keer toe die sementvragmotor my rakelings gemis het — gee my linkerbeen so ’n onbeheerste wip en raak aan die bewe. Dit is ’n bewing soos mense wat nie kan stilsit nie. Soos die man wat voor jou in die lisensiekantoor sit en ongeduldig wag. Dit is net dat my been onwillekeurig so vanself tekere gaan.
Die dag toe die Mercedes-vragmotor my 1400-bakkie van agter verfrommel het, het die bewing vinnig ingeskop toe ek in die truspieëltjie opmerk dat die bekende Mercedes-kenteken nou baie groot word.
Die loslpende donkie buite Kuruman, die onverwagse voetganger in Durban, die olifant wat die motor gestorm het in die natuurreservaat, die dag toe die Renault in Boksburg gegly het en die keer toe ons twee motors was wat gelyk in ’n baan in Sunnyside inbeweeg het, is almal groot skrik-herinneringe.
Dit gebeur darem deesdae minder gereeld. Dalk is dit die platteland se minder verkeer. Miskien het my bestuursvernuf verbeter of dalk is my senuwees nou gedaan, want my linkerbeen het lanklaas gebewe.
As ’n mens eers so ’n groot skrik op die lyf geloop het, wil jy onmiddelik versigtiger bestuur, maar jou bewende voet sukkel om die koppelaar te beheer.
Veilig bestuur en mag die “groot skrik” min wees!