Gewilde koor bied musiekblyspel aan
Die Andanté-koor van Die Oog Aftreelandgoed buite Mookgophong bied vanjaar sy derde konsert op Vrydag 25 Oktober in die Olienhoutsaal by Die Oog aan.

Die konsert begin om 19:00 en kaartjies beloop R40 per persoon.
Vanjaar se optrede beloof om uit die boonste rakke te wees. Die tema is: Musiekblyspele en ander grotes, wat beteken dat die liedere wat gehoor sal word bekende en geliefde melodieë is wat oor baie jare bekendheid verwerf het én waarmee ’n mens kan saamneurie.
Die repertoire is wyd en sluit ’n verskeidenheid blyspele in soos The Sound of Music, Oklahoma, Joseph and The Amazing Technicolour Dreamcoat en Fiddler on the Roof.
Die program is saamgestel uit koorsang, groepsang, solo’s en klavieritems.
Die Andanté-koor bestaan uit 33 kernlede wat almal inwoners van Die Oog is. Die koor tree op by lofsangdienste, Die Vonkeljare Musiekfees in Pretoria en ander toepaslike geleenthede. Die inkomste uit hierdie konsert word verdeel tussen die koor se geldelike verpligtinge oor die volgende twee jaar en aan verdienstelike uitgawes ter uitbreiding en bestuur van Die Oog. Die koorleier is Elize Duncan en die begeleier is Isabel McDermott.
Kaartjies kan gekry word by C&A in Mookgophong of bel vir Betsie by tel. 082 457 1675 of Leonora by tel. 076 988 5529.