Laat wiel na gewilde Dopperbasaar
Daar is min dinge wat kom by ’n regte plattelandse kerkbasaar en daar is nie baie bakkers wie se koeksisters so lekker smaak soos dié van ’n Dopper-suster nie.

Die Gereformeerde Kerk Waterberg se jaarlikse basaar vind op Saterdag 2 November vanaf 08:00 by die Doppersaal in Kerkstraat 57 in Modimolle plaas.
Die kerkgebou is reg langs die Waterberg-ouetehuis. Inwoners wat ’n draai by dié koopfees wil maak, sal nie teleurgesteld wees nie.
Dié basaar se vleisverkope of “vleispaleis” is baie gewild en ’n mens loop altyd ’n winskopie raak.
Waar kry ’n mens nog topgehalte maalvleis teen slegs R65 per kg? Die Doppers se bekende boerewors sal teen slegs R70 per kg verkoop word.
Ses spekvet beeste, ’n paar skape, varke én wildsvleis is die afgelope week in die slagkamer onder leiding van die bekwame Dopper-vleiswerkspan bewerk.
Vleisverkope sal om 08:30 afskop.
Daar sal ook ’n heerlike ontbyt bedien word. Kaartjies vir dié ete kan by die kerkkantoor teen R50 per volwassene en R25 vir laerskoolkinders gekoop word of bel vir Alberta van Jaarsveld by tel. 076 812 0282 om vir die ontbyt te bespreek.
Die vrugte- en groentepakke (‘hampers’), wat jaarliks baie gewild is en soos soetkoek verkoop, sal teen R100 beskikbaar wees.
Daar sal ook tradisionele geregte soos pap en kaiings, pannekoek en basaarpoeding verkoop word.
Tuiniers kan gaan inloer vir ’n groot verskeidenheid plante, vetplante en vrugtebome, waaronder granaat- en vyeboompies, daglelies, kannas en boslelies (clivias).
Soos by enige basaar moet niemand daar wegstap sonder dat hulle ’n draai by die handwerk-, koek- en wit olifanttafel gemaak het nie.
Vir navrae bel vir Van Jaarsveld of skakel die kerkkantoor by tel. (014) 717 3720.