Lifestyle
Gaan voertuig na voor lang ritte
Met die vakansie op hande sal duisende motorryers die langpad vir ’n wegbreek of familiekuier aandurf.

Baie voertuigeienaars laat hul voertuie voor so ’n lang rit diens, maar ’n deeglike inspeksie moet ook uitgevoer word.
Sommige werktuigkundiges het die swak gewoonte om tydens ’n diens slegs die olie en filters te ruil.
Daar is egter ’n lang lys dinge wat nagegaan moet word. Voertuigeienaars word aangeraai om daarop aan te dring dat werktuigkundiges deur ’n skedule werk en ’n deeglike inspeksie van die voertuig doen.
Die volgende moet gereeld en veral voor lang ritte nagegaan word:
- Vloeistofvlakke, olie, remvloeistof en verkoelervlakke moet nagegaan word. Indien verkoelervlakke gereeld te laag is, beteken dit dat die vloeistof êrens die sisteem verlaat. Die sisteem moet deeglik nagegaan word vir lekke, aangesien te min verkoelervloeistof tot oorverhitting of ’n gebarste verkoeler kan lei.
- Vakansies begin dikwels met ’n vroeë oggendrit en daarom moet die ligte bekyk word.
Maak seker die ligte werk behoorlik en is reg gestel. Remligte wat ouer lampe gebruik se lewensduur is redelik kort. - Spuit water op die voorruit en kyk of die ruitveërs behoorlik werk. Bestee eerder geld op goeie gehalte veërs as om lewens te waag.
- Bande en wiele is baie belangrik. Die bande se druk moet gereeld nagegaan word, maar kyk ook na die loopvlak van die bande. Is daar voldoende loopvlak, is daar skade, gladde oppervlaktes of ongelyke dele? Moenie die spaarwiel vergeet nie.
- As ’n motor skuins trek indien die rem getrap word, kort dit dringend aandag. Remblokke moet nagegaan en vervang word.
- Krag word met behulp van ’n belt opgewek en die verkoelervloeistof se sirkulasie maak op die belt staat. ’n Gebreekte belt kan ’n motor binne ’n kort afstand onklaar maak.
- Onthou om gereeld stil te hou. Gebruik ook dié geleentheid om die voertuig na te gaan.
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.