Kom lag saam met ‘Die Grapmakers’
“Komedie is nie ’n grap nie; dit is ’n ernstige saak!”

Die KunsteGrot in Thabazimbi sit die res van die jaar se program voort met ’n splinternuwe komedie uit die pen van die aktrise en skrywer Lizz Meiring met Neels van Jaarsveld en Michelle Botha in die hoofrolle.
“Komedie is nie ’n grap nie; dit is ’n ernstige saak!” is Meiring se antwoord op die vraag wat telkens in ’n geselskap opduik: “Waar kom grappe vandaan?”
Om dié antwoord te hoor, kom kuier gerus op Donderdag 19 November om 19:00 by die KunsteGrot in Thabazimbi.
Die stuk wat op die planke sal wees, handel oor twee uitgeworpe karakters wat deel is van die antieke Griekse mitologiese muse van komedie. Hulle sit iewers in ’n stowwerige, vergete kantoor en die twee karakters hanteer die humorafdeling met al die grappe en komedie wat op ’n daaglikse basis voorkom. Maar eintlik is moeilikheid vlak voor die deur van die muse.
Die karakters ondervind dat die mense in depressie verval as hul moeilike tye ervaar. Met Covid-19 wat die land onder groot druk geplaas het, verstaan ’n mens dalk hierdie soort reaksie beter. Die verhaal wat volg is verrassend, aweregs, eiesoortig en lewer skerp en spitsvondige kommentaar.
Dit bevat sterk en slim satire oor die verlies van die vermoë om vir onsself en ander met deernis te lag. Die Grapmakers is beslis die regte wind in Suid-Afrikaners se (pap) seile.
Hierdie nuwe stuk van Meiring sou open as opdragstuk by Innibos Kunstefees. Innibos is intussen gekanselleer. Daar is ’n ouderdomsbeperking.
“Die rede hiervoor,” sê Meiring, “is omdat daar ’n paar rowwe woorde en kontroversiële temas is wat nie geskik is vir kinders onder 16 nie.”
Besprekings kan gedoen word by Rita Volschenk by tel. 083 744 8559. Kaartjies kos R150 vir volwassenes en R100 vir pensioentrekkers. Pak gerus die piekniekmandjies en beleef ’n gesellige aand van hoogstaande komedie saam met topakteurs. Daar is slegs 100 kaartjies beskikbaar.