Finance Advice

Finansies: Spaar só geld

Hoeveel kere lees en hoor ons nie dat ons moet spaar nie?

Spaar vir aftrede, spaar vir ’n motor, huis of vakansie. Wat blykbaar met die meeste mense gebeur, is ’n groot poging om te spaar om net later swaar te kry. Hulle uitgawes is net te veel om nog te spaar ook. As jy jou oë uitvee, spaar jy om skuld af te betaal. Daarom dat sogenaamde geldskieters (loan sharks) so floreer.

Baie mense werk, maar die lewe is so duur dat hul uitgawes hul inkomste oorskrei. Daarom moet dié wat het, beslis kennis neem van spaarinstrumente — veral met die oog op aftrede.

Hoe gouer jy begin spaar, hoe sterker sal die kumulatiewe effek van rente op rente werk. Einstein het dit beskryf as die agtste wonder van die wêreld.

’n Mens moet spaar vir jou aftrede, maar ook om al die moontlike belastings wat van toepassing kan wees, se effek hok te slaan. ’n Voorbeeld hiervan is as jy jou huis verkoop of die eiendom verhuur, moet jy kapitaalwinsbelasting (KWB) daarop betaal. Jy beskou die waarde van so ’n huis dalk as deel van aftreekapitaal, maar dan vreet KWB daaraan. Wees ook bedag op die hereregte wat jy by aftrede moet betaal indien jy ’n nuwe aftreehuis koop. Hereregte is ’n eiendomsbelasting en word deur die koper betaal. Voorsien dus daarvoor.

Natuurlik spaar ons op verskillende maniere vir aftrede, maar die beste is om twee vlieë met een klap te tref: spaar terwyl jy ook sover moontlik jou belastingaanspreeklikheid vir solank jy inkomste verdien kan verminder. Die twee belangrikste kanale is die sogenaamde belastingvrye belegging wat jy by enige goedgekeurde finansiële instelling kan doen. Jy kan maandeliks hierin spaar tot soveel as R36 000 per jaar tot ’n algehele maksimum van R500 000 se bydraes, waarna jy nie meer sulke bydraes kan maak nie. Hierdie belegging is heeltemal van alle belasting vrygestel. Dit keer belastingvry aan jou uit die dag as jy dit wil onttrek. Jy kan meesal die onderliggende fondse van tyd tot tyd wysig en ook maandeliks of andersins gereeld belastingvrye onttrekkings daaruit maak.

Die ander roete is die bekende uittree-annuïteit waar die premies aftrekbaar is van belasting tot 27,5% van belasbare inkomste tot ’n maksimum van R350 000. By uittrede kan ’n derde van die totaal as enkelbedrag geneem word en die eerste R500 000 daarvan is belastingvry. Die res word per glyskaal belas, terwyl die tweederde deel gebruik moet word om ’n maandelikse pensioen mee aan te koop. ’n Uittree-annuïteit is ook ’n goeie boedelbeplanningsproduk. Kry gerus volle besonderhede van albei hierdie planne by jou finansiële adviseur, wat verkieslik die CFP-kwalifikasie het.

Wanneer jy geld aan byvoorbeeld jou kind skenk, moet jy probeer om dit te beperk tot R100 000 per jaar, want bedrae groter as hierdie word teen 20% belas en as jy dit nie betaal nie, sal die ontvanger van die skenking daarvoor moet betaal. Skenkings wat tussen gades gedoen word, is vrygestel. Gebruik dus ook hierdie opsie waar nodig

Onthou ook dat jy 25% korting kry op sonpanele wat jy installeer tot ’n maksimum van R15 000 — dus, indien die panele tot soveel as R60 000 kos, kry jy net mooi die volle 25% toegif. Spaar dus waar jy kan, veral daar waar die inkomstediens (SARS) jou help om jou besparing effektief te doen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button