Warmbad Rusoord
Warmbad Rusoord —
Al vir 62 jaar van krag tot krag
MIN MENSE WEET DAT WARMBAD RUSOORD, ’N TEHUIS VIR BEJAARDES IN BELA-BELA, EINTLIK ’N BAIE BESONDERE GESKIEDENIS HET.
Dit was die heel eerste tehuis vir bejaardes wat die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) in 1957 in die destydse Transvaal op die been gebring het.
Volgens ’n gedenkblad wat in 1982, met die viering van die 25ste bestaansjaar van Rusoord uitgegee is, is Warmbad Rusoord op 13 September 1957 in Voortrekkerstraat, die hoofstraat van die destydse Warmbad, op luisterryke wyse in gebruik geneem.
Soortgelyke tehuise is vroeër in onder meer Pretoria en Vrededorp in Johannesburg deur die kerk se destydse Barmhartigheidsdiens op die been gebring.
Geïnspireer deur hierdie nuwe rigting het die Ring van Waterberg op 4 Julie 1954 ’n besluit geneem om te begin beplan aan ’n versorgingshuis in dié deel van die land.
Intussen het 62 jaar verloop en Warmbad Rusoord is steeds ’n suksesverhaal. Die afgelope dekade het die dinamiese bestuurspan aangepas by die eise en tendense van die die tyd en mense word in hul goue jare met die grootste respek en deurnis versorg.
Geestelike versorging geniet voorkeur
DIE INWONERS BY WARMBAD RUSOORD HET DIE VOORREG OM GEESTELIKE LEIDING TE ONTVANG VAN ’N RUSOORD-INWONER WAT ETLIKE JARE AS PREDIKANT IN EEN VAN DIE PLAASLIKE GEMEENTES GEDIEN HET EN ’N LANG PAD SAAM MET RUSOORD LOOP.
Ds. Kokkie Kok skryf hier self oor sy voortgesette verbintenis met Rusoord:
My verbintenis met Warmbad Rusoord het begin in 1977 toe ek in Warmbad Moedergemeente bevestig is.
In 1978 is ek verkies as die voorsitter van die beheerraad en ek het die amp beklee totdat ek in 2001 afgetree het. Ná my aftrede het die Here my op ’n baie besondere manier geroep om weer by Rusoord en sy inwoners betrokke te raak. Dit het ’n wonderlike nuwe tydvak in my lewe ingelei.
Ek stel my dit ten doel om drie keer per jaar by al die inwoners huisbesoek te doen en verder probeer ek om almal te besoek op hulle verjaarsdae of wanneer hulle siek is of as hulle trauma in hulle lewens ervaar.
Daar word tans 16 gemeentes en denominasies deur die inwoners van Rusoord verteenwoordig.
Een ding van my werk wat ek ervaar het, is dat daar ’n magdom van geloof en toewyding onder een dak byeengebring is. Hier word op ’n hoë ouderdom nuwe vriendskappe gesmee en getuienisse gelewer.
Vir my persoonlik is dit lekker om in die gange rond te beweeg en al die liefde en vertroue van die inwoners te beleef.
Ek ervaar telkens die waarheid van Ps. 92: 14, 15 – “Hulle vind hulle krag in die huis van die Here en groei op in die tempel van ons God. Selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wees.”
Ek kan nie anders as om ook te meld van die diens en die liefde wat ons van die personeel ontvang nie. Hulle versorg ons met groot liefde en hulle laat my weer dink aan die uitspraak van Jesus in Matt. 25: 40 – “ Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broeders van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”
Warmbad Rusoord —
Dinamiese span = dinamiese diens
BEJAARDES KAN MET GROOT GEMOEDSRUS STAATMAAK OP DIE PUIK DIENS WAT BY DIÉ TEHUIS GELEWER WORD.
Anne van Blerk, die tehuis se uitvoerende beampte, is ’n dinamiese leier wat glo dat ’n mens deur effektiewe kommunikasie wondere kan verrig. By Rusoord is daar dus ’n kommunikasienetwerk wat die personeel, inwoners en hul familie en ander geliefdes insluit.
Van hierdie dienste sluit in:
- Drie gebalanseerde maaltye per dag.
- Drie personeellede wat saans saam met ’n gekwalifiseerde suter wat op roep is, diens doen.
- Daar is in totaal 35 mediese personeellede in diens van Rusoord onder die bekwame leiding van die matrone, Michele van de Pol, en van die versorgers is al langer as 30 jaar in diens van Rusoord.
- Kontrolering en toedien van alle nodige medikasie.
- Goed toegeruste versorgingseenheid vir verswakte bejaardes.
- ’n Skoonmaakdiens wat die skoonmaak van kamers en badkamers, asook ’n wasgoeddiens insluit.
- ’n Span wat die herstelwerk in en om die tehuis hanteer.
- ’n Vervoerdiens wat die inwoners op ’n gereëlde grondslag na onder meer plaaslike dokters en hospitale neem, asook die dorp waar die bejaardes inkopies en banksake kan doen.
- Besoekers is enige tyd welkom. Die ingang vir besoekers is aan die agterkant van die tehuis in Lunaweg waar daar sekuriteitskameras is, asook genoegsame parkering.
- Bystand met die afsterwe van inwoners, in samewerking met die begrafnisdiens wat as voorkeur deur familie verkies word.
Warmbad Rusoord
Kostes
RUSOORD SE KOSTE IS OOK UITERS BILLIK VERAL INDIEN ’N MENS DIT MET SOORTGELYKE DIENSTE IN DIE STAD VERGELYK.
Die maandelikse fooie vir ’n gesonde bejaarde beloop R6505 per maand en vir ’n verswakte bejaarde in die versorgingseenheid is die fooi R7830 per maand.
Daar is ook sewe selfsorgwoonstelle op die perseel, maar dié eenhede is tans vol.
Kontak ons
Tel: 014 736 2340
Faks: 014 736 2332
E-pos: anne@rusoord.co.za
Facebook: Warmbad Rusoord
Chris Hanistraat 35, Bela-Bela.
Posbus 65, Bela-Bela, 0480