Plaaslike owerhede deel aksieplan vir vullisterreine
Die tekort aan behoorlike afvalbeheer en instandhouding van infrastruktuur is veral problematies
ERMELO – Ná die onlangse vullisterreinoudit deur AfriForum, wat ernstige tekortkominge in die bestuur van vullisterreine in Mpumalanga uitgewys het, het die betrokke owerhede op die bevindings begin reageer.
Hierdie oudit het aan die lig gebring dat die meerderheid van die vullisterreine nie aan die minimumvereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen nie, wat ‘n groot impak op die omgewing en gemeenskappe het.
Op Ermelo het die vullisterrein ‘n onderprestasie met ‘n swak nakomingsvlak van 12% getoon, slegter as verlede jaar se 19%.
Die tekort aan behoorlike afvalbeheer en instandhouding van infrastruktuur is veral problematies.
Breyten se vullisterrein vaar nie veel beter nie en het ook nie die oudit geslaag nie.
Die situasie op Morgenzon is besonders kommerwekkend, aangesien die vullisterrein glad nie die oudit kon slaag nie, met ‘n skokkende 0% nakoming.
Die vullisterrein op eMkhondo het ook tekortkominge getoon, alhoewel dit effens beter vaar as sommige van die ander dorpe in die streek.
Op Carolina het die vullisterrein egter aansienlik verswak met slegs 54% nakoming, vergeleke met die vorige jaar se 82%.
Thapelo Phetla, woordvoerder van die Chief Albert Luthuli Plaaslike Owerheid, het in reaksie op die oudit die planne uiteengesit om die tekortkominge in Carolina aan te spreek.
Volgens Phetla beoog die munisipaliteit om gemeenskapslede meer aktief by vullisterreinaktiwiteite te betrek, insluitend die skeiding van afval by die bron en die implementering van die VHH-beginsel (verminder, hergebruik en herwin).
Hy het ook beklemtoon dat die monitering van vullisterreine verbeter sal word om nakoming te verhoog en probleme vinniger te identifiseer.
Lees ook die kommentaar van die Lekwa Munisipaliteit in vandeesweek se Hoëvelder.