Is hier ‘n burgemeester sonder ‘n ketting in Kempton?
Die projek is daarop gemik om erkenning te gee aan die huidige staatmakers in ons gemeenskappe
KEN jy ‘n burgemeester sonder ‘n ketting in Kemptonpark? Daardie persoon wat betrokke is by plaaslike instellings of die kerk, wat patrollie ry om die buurt veilig te hou of kosmaak vir die skool se voedingsprojek?
Dit is dié persone wat Solidariteit Helpende Hand wil erken en vereer vir die verskeie wyses waarop hulle hul gemeenskap help en ophef. Dit is die mense wat deur hul gesamentlike honderde aksies help bou aan ‘n groter visie vir ‘n positiewe Afrikaner-toekoms.
Dr Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het tydens ‘n openbare toespraak gesê dat die Afrikaner se oorlewing lê in gemeenskap-selfstandigheid en sterk gemeenskapsleiers.
Volgens hom is die Afrikaner se toekoms afhanklik van sterk burgerlike instellings waardeur lewensruimtes geskep word.
“Hendrik en Miems van der Westhuizen is die burgemeesterspaar sonder die ketting van Waverley, die woongebied waar ek bly. Hy is nie ‘n verkose politieke leier nie, maar die gemeenskapsleier. Hy organiseer die patrollies en radionetwerk, is voorsitter van die atletiekklub en reël alles.
“Miems maak toebroodjies vir arm Afrikaners en is oral betrokke. Beide is betrokke by ‘n suksesvolle Christelike privaatskool. As fondse ingesamel moet word, is Hendrik en Miems daar. As ons praat van Afrikaner-leiers, moet ons nie soek na groot politieke leiers wat vanaf ‘n sentrale stelsel regeer nie, maar die Van der Westhuizens wat vanuit die gemeenskap werk.”
Die burgemeester-sonder-ketting-projek is dus daarop gemik om nie net erkenning te gee aan die huidige staatmakers in ons gemeenskappe nie, maar om ook as aanmoediging te dien vir almal wat glo in ‘n beter toekoms.
Persone wat graag ‘n “burgemeester sonder ‘n ketting” in Kemptonpark wil nomineer, kan ‘n motivering van nie meer as 200 woorde nie stuur na adele@helpendehand.co.za.
Nominasies sluit op 15 April.