Local newsNews

Die kospotte sien dié hen nie

'n Blinde hoender het 'n nuwe tuiste saam met vierpotige troeteldiere gevind.

‘n Hoenderhen kan haar stêrre seker dank dat sy twee jaar gelede nie blindelings in die kospotte beland het nie.
Gordette du Plessis, die eienaar van dié hen verduidelik hoe Chicken, soos hulle haar noem, by haar en haar man Aubrey as ‘n troeteldier en nie as ‘n maaltyd by hulle opgeëindig het.

“Ons het sowat twee jaar gelede Chinese bure gehad wat hoenders in die agterplaas aangehou het. My man het gereeld vir die hoenders kos oor die muur gegooi, maar Chicken het nie soos die ander dit blitsig opgepik nie. Hy het later agtergekom dat die hoender heel waarskynlik blind is en het dit aan die bure genoem.”

Sy sê dit lyk of die bure toe self nie agtergekom het dat die hoender eintlik wel blind is nie.

“Hoe sy dit nog kon regkry om te oorleef is ‘n wonderwerk op sy eie.”

Haar man Aubrey het toe gevra of hy die hoender kan koop wat toe reeds in ‘n vreeslike toestand was.

“Chicken het toe mooi begin lyk, maar ook weer skielik siek geword. Ons het haar na die veearts geneem vir ontwurming toe ons oplet daar is wurms elke keer wanneer sy ontlas.”

Gordette sê dit was ‘n proses om Chicken weer tot haar volle glorie te kon herstel.

“Vandag lyk sy soos ‘n heel ander hoender en is haar maats ons ander vierpotige diere.”

Bug, ‘n kruising tussen ‘n Foxterrier en ‘n Pug was maar ses maande oud toe sy met Chicken kennis gemaak het.

“Vandag is hulle groot maats – sy gee haar ‘n ruik en ‘n hondesoen en daar is geen aanduiding van iets dat sy of my katte haar wil eet nie”

Gordette sê haar hoender volg haar deur na haar stem te luister en luister só ook wanneer dit etenstyd word.

“Sy kan hoor wanneer die pitte in die kosbak gegooi word en sal dan daarheen haas om die kos op te pik.”

Sodra dit slaaptyd word neem sy die hondehok oor en sal Aubrey haar gaan haal en op haar slaapplek op die voorstoeop in ‘n babastoel wat met verbande toegedraai is, sit.

“Ek pas my hoender goed op en sal haar nooit alleen in die voortuin laat waar ander mense haar kan steel en dalk vir die kospotte sal gebruik nie,” lag Gordette.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button