Witkruisarende se dae getel?
Indien Emoyeni nie weer eiers kan lê nie kan dit beteken dat Thulani die omgewing sal verlaat om 'n ander wyfie te soek.
Daar was groot opgewondenheid by die Walter Sisulu Botaniese Tuin omdat die Witkruisarende Emoyeni en Thulani se kuikens vroeër vandeesmaand hulle opwagting sou maak, maar dit het intussen ‘n hartseerverhaal geword.
Die twee eiers in die nes het vanjaar nie uitgebroei nie.
Tanya Becker, die koördineerder van die Witkruisarendprojek sê hulle het daarna uitgesien om die kuikens te verwelkom, maar weens natuurlike oorsake het dit nie gebeur nie.
“Een van die eiers het wel n klein opening gehad, maar die kuiken was ongelukkig net te swak om deur die eierdop te breek en het gevrek.”
Sy sê die kuiken kon dalk siek gewees het, maar dat hulle nooit presies sal weet nie.
“Die tweede eier het n snaakse kleur gehad en uit ondervinding weet ons dat dit nie n goeie teken is nie; dit dui daarop dat die eier dalk onvrugbaar is.”
Die eiers is steeds in die nes en omdat die Witkruisarende en spesifiek Emoyeni onder hewige stres is, kan die eiers nog nie uit die nes gehaal word om dit te ontleed nie.
Becker sê daar was al vroeër in die 1990’s ‘n geval waar die arende se tweede broeityd meer suksesvol was, maar dit kan problematies wees.
“Die probleem nou is dat indien die kuikens later sou uitbroei, dit vir hulle te warm sal wees. Die hoofrede waarom ons verkies dat die broeityd in die winterseisoen is, is omdat die kuikens nie die somerhitte kan hanteer nie.”
Die personeel van die Botaniese Tuin het al opgemerk dat Emoyeni haar vlerke oopsprei, veral wanneer dit baie warm is, sodat sy die kuiken teen die son se hitte kan beskerm.
“Indien sy weer die seisoen lê en die eiers nie uitbroei nie, het die ouderdom haar dalk ingehaal. Ons skat haar sowat 45 jaar oud, maar ons sal maar moet wag tot die volgende broeiseisoen om seker te maak.”
Becker sê danksy Africam het hulle deur n webkamera 24/7 toegang tot die nes en kon hulle die nes monitor.
“Ons het ook Garth Heydenrych, ons fotograaf, se dienste gebruik om te bevestig of daar eiers of kuikens in die nes is.”
Indien Emoyeni nie weer eiers kan lê nie kan dit beteken dat Thulani die omgewing kan verlaat om ‘n ander wyfie te soek. Dit kan die einde van die Witkruisarende in die gebied wees.
“Tog hoop, glo en vertrou ons dat dit nie sal gebeur nie. Witkruisarende paar vir ‘n leeftyd, so sou hy die omgewing verlaat kan dit n eerste wees.”
Sy sê die Witkruisarende is op die oomblik onder baie spanning en stres omdat hulle habitat deur ontwikkeling bedreig word.
