Misdaad vier steeds hoogty in Muldersdrift
Negentien moorde is reeds vanjaar in die gebied gepleeg.

Negentien moorde is vanjaar in Muldersdrift, ‘n gebied van 380 000m2 gepleeg wat die getal moorde in vergelyking met verlede jaar se 10 met tot 95 persent laat styg het.
Dit is deel van die statistieke wat verlede maand deur Nathi Mthethwa, die Minister van Polisie vir die jaar 2012/ 2013 bekend gemaak is.
‘n Totaal van 2 229 gevalle van misdaad is die afgelope jaar by die polisie aangemeld, wat nie baie minder is as verlede jaar se 2 135 nie.
‘n Lid van die Gemeenskapspolisiëringsforum, wat om persoonlike redes nie sy identiteit wil bekend maak nie, sê misdaad is reeds besig om weer in die Muldersdrift-gebied hoogty te vier soos die Kersseisoen nader kom omdat die polisie weer net met vier voertuie moet klaarkom – een vir elk van die drie sektore en een wat die ondersoekbeampte gebruik.
“Verskeie voorvalle van misdaad is al sedert September aangemeld wat gevalle insluit waar fietsryers wat in die gebied kom oefen of bloot kom ry het, aangeval is.”
Hy sê in die gebied waar hy polisiëringswerk doen, wat gebiede soos Rietfontein en Nooitgedacht insluit, word daar omtrent elke dag ‘n saak v an poging tot roof by die polisie aangemeld.
Die volgende statistieke, wat met verlede jaar s’n vergelyk sal word, is ook bekend gemaak:
Kontakmisdade (misdade teen ‘n persoon)
• Seksuele misdrywe het met 17 persent gedaal.
• Poging tot moord het met 48 persent gestyg nadat 27 sake in vergelyking met verlede jaar se 14 aangemeld is.
• Aanranding met die opset om ernstig te beseer en gewone aanranding het onderskeidelik met 2,6 en 3 persent gestyg.
• Gewone roof en roof met verswarende omstandighede het onderskeidelik met 9 en 4 persent gestyg.
Eiendomsverwante misdade
• Inbrake by nie-residensiële persele het met 38 persent gestyg terwyl inbrake by residensiële persele met 16 persent gestyg het.
• Diefstal van ‘n motorvoertuig of ‘n motorfiets het van 56 aanmeldings tot 48 aanmeldings gedaal.
• Diefstal vanuit ‘n motorvoertuig het met 16 persent gestyg.
• Veediefstal het van twee aanmeldings tot sewe aanmeldings gestyg.
Misdade wat deur polisie-optrede ontdek is
• Onwettige besit van vuurwapens en ammunisie sowel as dwelmverwante misdade het onderskeidelik met 36 en 55 persent gestyg.
