Local newsNews

Muldersdrift kan veiliger gemaak word

'n Gemeenskapspolisiëringsforumlid van hierdie gebied reken dat inwoners die blaam moet kry vir misdaad wat in Muldersdrift hoogty vier.

Misdaad in Muldersdrift sal nie afneem nie tensy inwoners van hierdie gebied hulle deel doen om self hulle omgewing te beveilig.

Moenie adverteer wat jy het nie; bêre dit veilig op ‘n plek waar dit nie dadelik sigbaar is nie.

Dit was die antwoord wat die NUUS ontvang het nadat daar gevra is wat mense in hierdie gebied kan doen om hulle en dié om hulle se veiligheid te verseker.

‘n Gemeenskapspolisiëringsforum- (GPF-) lid wat nie sy naam genoem wil hê nie sê hy was self al ‘n slagoffer van misdaad op sy kleinhoewe en het ekstra voorsorg getref om ‘n soortgelyke voorval te voorkom.

“Beveilig jou huis! Al wat die mense in hierdie gebied moet doen is om seker te maak dat enige skuilplek, soos bome of bosse voor hulle erf en hekke verwyder word.”

Hy het die NUUS-verslaggewer in Muldersdrift rondgeneem en plekke uitgewys waar misdaad hoogty vier en gesê dit is omdat inwoners nie moeite doen om hulle erwe skoon en oop te hou sodat misdadigers nie maklik daar kan wegkruip nie.

Dit is duidelik dat baie erwe nie skoongehou word nie. Op verskeie plekke staan bome by die ingang van erwe waar misdadigers kan wegkruip totdat hulle slagoffers die hek oopmaak.

‘n Onlangse geval waar ‘n egpaar in Larsensweg deur vier mans aangeval is omdat hulle deure en hekke nie gesluit was nie beklemtoon hoe belangrik dit is dat mense hulle deure en hekke te alle tye gesluit moet hou.

Die GPF-lid sê ook dat dit ‘n goeie belegging is om elektriese heinings om die woning te plaas en seker te maak dat al die vensters en ingange diefwering het.

“Dit sal ook ‘n verdere belegging in veiligheid wees as inwoners ligte op hulle erwe aanbring, want so sal hulle enige beweging kan sien en die skuilplekke verlig.”

Nog wenke is om altyd te reageer wanneer jou hond blaf en dan te probeer vasstel waarom die hond blaf.

“As jy onseker is of jou veiligheid daardeur in gevaar stel, moenie ‘n held probeer wees nie. Bel eerder die polisie sodat hulle kan kyk of jou gebied veilig is.”

Hy sê dat ‘n mens nie duur besittings onnodig in die huis of motor moet laat rondlê nie.

“Moenie adverteer wat jy het nie; bêre dit veilig op ‘n plek waar dit nie dadelik sigbaar is nie.”

Hy sê om die reaksietyd van die polisie en nooddienste te verbeter, stel hy voor dat die straatname in Muldersdrift eerder alfabeties toegeken word.

“Mense soos die nooddienste, wat nie vertroud is met die area nie, sal vinniger by ‘n toneel kan uitkom, want ry hulle byvoorveeld verby ‘n straatnaam wat met D begin en wil by ‘n straatnaam uitkom wat met ‘n E begin, dan sal hulle weet hulle moet weer terugry.”

Hy sê in plaas van hoewenommers sal dit dalk beter wees as straatnommers wat op mekaar volg, in die onderskeie strate toegeken word.

Wat is jou mening oor die misdaad in Muldersdrif? Dink jy dat hierdie voorstelle ‘n oplossing kan bied of is daar iets anders wat gedoen kan word?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button