Vir ‘n groot aantal bejaardes by Jack Cotton staatsbehuising vir senior burgers in Krugersdorp-Wes is ‘n weeklikse besoek by die plaaslike kliniek van kardinale belang.
Vir die bejaardes van wie die meeste net-net op die broodlyn leef, is vervoer egter ‘n groot uitdaging en sommiges moes óf stap óf sonder hul medikasie klaarkom.
Dit was voor Marc Fouché, 63, ses jaar gelede by Jack Cotton ingetrek het.
Fouché wat ou motor besit het dadelik die nood raakgesien en die oues se eie pendeldiens geword.
Maar ses jaar se harde werk het sy tol op die motortjie geëis en die battery was gedaan. Die bejaardes was toe weer van voor af in die nood.
Weer het ‘n goedhartige figuur op die toneel verskyn; dié keer in die vorm van ‘n jong meisie wat toevallig van die krisis gehoor het toe sy onlangs kospakkies vir die bejaardes gaan uitdeel het.
Michaela Wantenaar, ‘n handelsmerkambassadeur en finalis van die Apprentesses of Angelique Gerber het dadelik aan die werk gespring en Duratec oortuig om ‘n motorbattery te skenk.
“Ek wou oom Marc help sodat hy weer die ander bejaardes kan help,” sê sy.
Fouché wat oorweldig was deur emosie toe hy die skenking ontvang, het in ‘n onderhoud met die news gesê dat die waarde nooit in woorde uitgedruk kan word nie.
“Sy het indirek lewens gered,” sê hy.
Alhoewel sy motor nog nie in top kondisie is nie, sê hy dat die grootste finansiële las nou van sy skouers af is.
