Gewas verwyder, lang herstelpad

Ruan Weideman, ‘n 16-jarige seun van Hoërskool Ben Vorster is verlede Maandag in die Unitas-hospitaal in Pretoria geopereer om ‘n vinnig groeiende, lewensgevaarlike gewas, odontogeniese myxoom, te verwyder.

Sy tweelingbroer, Erard, en ma, Nadine het saam na Pretoria gereis om Ruan te ondersteun. Ruan moes uitgebreide kaak- en middelgesig[1]chirurgie ondergaan om die gewas te verwyder en daar lê nog ‘n lang pad van herstel voor met nasorg en rekonstruksiechirurgie wat moet gebeur. “Die hemimaksillektomie om die gewas te verwyder het ongeveer vyf ure geduur en die hele gewas is verwyder,” sê Moné Pieterse, ‘n vriendin van die Weideman-gesin.

Ruan is verlede Dinsdag van die hoësorgeenheid na die algemene saal oorgeplaas en is Woensdag uit die hospitaal ontslaan. Hy het ‘n paar aande tuis deurbring voordat hy die week weer Pretoria toe is vir ‘n opvolgondersoek by een van die spesialiste. Volgens Pieterse trotseer die gesin die uitdagings van dag tot dag en sal Ruan elke drie maande vir opvolgondersoeke na ‘n spesialis in Pretoria moet gaan.

Lees ook: Ruan (16) moet dringend operasie kry

Die Weideman-gesin benodig steeds geld vir Ruan se nasorg- en die rekonstruksiechirurgie en daar word ‘n beroep op skenkings. Dit word beraam dat die totale koste vir sy behandeling R2 miljoen sal beloop. Daar is reeds ongeveer R500 000 ingesamel. “Ons wag nog vir die hospitaal se rekening vir die chirurgie en daar is nog ‘n lang pad van herstel wat vir Ruan voorlê,” sê Pieterse.

Besighede en individue wat graag ‘n skenkings wil maak, kan Moné Pieterse by 079 503 2004 skakel vir die NPO, Caring Daisies, se bankbesonderhede. Caring Daisies sal die geld namens die gesin hanteer en ook ‘n Artikel 18A-belastingsertifi kaat uitreik vir alle bedrae bo R5 000. Round Table 96 Tzaneen in samewerking met ander plaaslike liefdadigheidsorganisasies, beplan ook om binnekort ‘n raakrugbytoernooi ten bate van Ruan aan te bied. Skakel Martin van der Schyff by 083 453 9892 om by dié projek betrokke te raak

Exit mobile version