Grusty en sy maats vertel van Jesus
Die gewilde bruin pop met die vriendelike eentandglimlag en kenmerkende growwe stem, is al 'n ou bekende in die Laeveld met sy Bybelse boodskappe wat die jeug meer van Jesus vertel.
MBOMBELA – Een van die hoogtepunte van die jaarlikse Gospel Skouspel wat op
13 Maart plaasvind, is die poppekasbediening van Grusty and the Foamheads wat kinders met ‘n verskeidenheid stories en liedjies gaan vermaak.
Kinders word op ‘n prettige manier aan die grondbeginsels van Christenskap bekendgestel en ons verhouding met Christus is een van die hooftemas wat Grusty met sy growwe stem aan hulle oordra. Wouter de Witt, oftewel Ghost soos hy ook bekend staan, is die breinkrag agter Grusty en is al vir die laaste sewe jaar besig om met die poppekas vir kinders op hierdie unieke manier van die Here te vertel. “Ek het by die kinderbediening by Manna Kerk begin waar die vorige lede alreeds met poppespel besig was. Hulle het my toe vinnig gewys hoe poppespel werk, watter bewegings moontlik is en ander basiese wenke gegee.”
In die begin het Wouter nie retig enige belangstelling in poppespel getoon nie, maar dit het alles verander toe hy sy eerste pop oor sy hand getrek het.
“Dit was asof alles net perfek gepas het en ‘n nuwe wêreld oopgegaan het,” vertel hy.
Wouter is toe genooi om poppe te maak en met genoeg ervaring het hy toe vir Grusty ontwerp en aanmekaargesit.
“Ek het hom self gebou en van ‘n spesiale materiaal ontwerp. Sy arms is ook met gom vasgeplak wat nie die norm is nie. Dit gee hom ‘n unieke voorkoms,” vertel Wouter.
Die gewilde bruin pop met die vriendelike eentandglimlag en kenmerkende growwe stem, is al ‘n ou bekende in die Laeveld met sy Bybelse boodskappe wat die jeug meer van Jesus vertel.
“Grusty is my gunstelingkarakter en die hoofspeler in my poppekas. Hy is gebaseer op ‘n rommelmonster wat soms met verse in die Bybel sukkel en dit dan buite konteks binne sy eie situasie interpreteer.”
‘n Voorbeeld hiervan is wanneer Grusty dink dat hy doodgaan omdat hy gesondig het. Later kom hy agter dat Jesus vir sy sondes gesterf het en dat hy die ewige lewe het omdat hy Jesus as sy verlosser aangeneem het.
Grusty se maats sluit in: Toulouse, ‘n Franse sjef, Nigel, ‘n visserman van Mitchells Plein asook Mottley die hond, en talle ander poppekaskarakters wat hulle eie unieke persoonlikhede het.
Sang is ook ‘n belangrike deel van die poppekas met ‘n liedjie wat gewoonlik tydens die storie aangebied word om die kinders te laat saamsing en die boodskap beter te laat begryp.
“Ons eindig gewoonlik met ‘n lekker saamsingliedjie wat op ‘n bekende wysie gebaseer is. Ek verander die woorde om dan by die tema van die dag te pas, maar die wysie bly dieselfde,” vertel hy. Volgens Wouter is daar ‘n klomp wenke wat in gedagte gehou moet word wanneer iemand poppespel wil beoefen.
“Dit is belangrik om jou duim te laat sak wanneer jy die pop beheer. Die pop moet ook op elke lettergreep sy mond oopmaak sodat dit realisties voorkom. Beweging is ook baie belangrik sodat daardie fantasie vir die kinders behoue bly.”
Alle kinders is wel nie so oop vir poppespel nie en is dan bang vir die poppe. “Ons sal hulle dan na die vertoning wys dat die poppe nie rêrig is nie,” verduidelik Wouter.
“Ek sien dat poppespel vir my altyd ‘n spesifieke doel het om iemand se lewe te verander sodat iets hulle bybly. Ek is ‘n geleentheid gegee om God se Woord te verkondig en die boodskap prettig, interessant en op ‘n visueel verstaanbare manier uit te beeld,” vertel hy.
