Gemeenskap help Angels om vir bejaardes te sorg
Danksy die skenkings van sakeondernemings in die Onderberg en Mbombela kan die plaaslike tak van die Guardian Angels aanhou om hulp aan bejaardes in die omgewing te verleen.
MALALANE – Die bejaardes van Malalane en Marlothpark wat onder die Guardian Angels se vlerke is, is op 1 November na ‘n teepartytjie by Selati 103 Guest Cottages genooi.
Hier is hulle deur That Drum met heerlike verversings en ‘n geskenkpakkie bederf. Jonathan Luff en Letitia Dasthner van That Drum het die pakkies uitgedeel en die bejaardes het dit baie waardeer.
Die Angels bedank ook die gastehuis se eienaar vir die gebruik van hulle lapa.
LEES: Guardian Angels maak die dag spesiaal vir bejaardes
That Drum het die dag daarna ‘n gholfdag by die Malelane Gholfklub aangebied. Hier kon die Guardian Angels ook fondse insamel en is ‘n mandjie vol lekkernye uitgeloot.
Die gholfspelers het hulle goed ondersteun en die Onderberg Verwerkingskoöperasie en Clyde Steel het ook vir die organisasie geld ingesamel. Die Angels wil hulle almal, asook Pick n Pay vir die water wat hulle aan die spelers voorsien het, bedank.
LEES: Seniors word met stylvolle piekniek bederf
Die goedhartigheid van die gemeenskap het die vrywilligers aangespoor om steeds hul waardevolle werk onder die bejaardes in die omgewing met groot entoesiasme voort te sit.
Dié groep vergader elke eerste Maandag van die maand om 12:00 by die NG Kerk Malelane.
Navrae: Alta by 082-493-4261.