‘n Tuinier met ‘n passie vir die Here
Michael Nkosi werk al 35 jaar as tuinier by Laerskool Laeveld, maar hy is ook 'n pastoor in die Pienaar-gemeenskap.
MBOMBELA – ‘n Man van die Here met ‘n liefde vir kinders en ‘n onblusbare passie vir sy werk. Dit is die opsomming van Michael Nkosi wat al 35 jaar as tuinier en algemene werker deel is van die span by Laerskool Laeveld.
“Ek het op 5 Mei 1983 hier begin saam met meneer André Barnard,” onthou Nkosi nog goed. “Hy het my geleer verf en ek het die klasse en die tuine skoongemaak. In 1984 het ek hom gehelp gras plant vir die rugbyveld en ook gehelp om die krieketblad reg te kry.”
Nkosi is nederig, maar baie vrywillig om dié rugbyveld aan enigeen te gaan wys wat vra. Hy het ook die palmbome geplant wat tot vandag toe bo die skool uit toring. Vir die skool en sy mense is Nkosi oneindig lief – veral vir die kinders. “Die kinders is soos my maatjies. Veral die gr. 1’s. Amper elke dag gooi hulle die bal oor die draad en dan roep hulle my om hulle te help om dit terug te kry.”

Maar wat as die kinders stout word? “As ek ‘n stout kind sien, dan vat ek hom eenkant dat ons bietjie kan praat. Ek vertel hom dan van die Here en hoe Hy ongelukkig is wanneer kinders stout is. Hulle luister vir my en vertel vir hulle maatjies ook.” Hy moedig hulle ook aan om Sondagskool toe te gaan.
LEES OOK: Color Run at Laerskool Laeveld on Monday
Nkosi is in 1993 met Torris getroud en is die pa van vier kinders en oupa van vyf. Sy een dogter is in 2014 oorlede.
Hy woon in Pienaar waar hy elke oggend om 04:00 opstaan om betyds te wees vir die bus wat 04:40 na die stad vertrek. In Mbombela spring hy op nog ‘n bus wat hom by die skool aflaai. Hy werk die heeldag en verlaat weer die skool om 16:00.
In sy gemeenskap speel Nkosi ook ‘n baie belangrike rol. Hy is verkies tot die beheerliggame van Family Star-kleuterskool asook Hoërskool Gedlembane Secondry School en hy is ook ‘n pastoor by ‘n kerk wat meer as 100 mense op ‘n slag verwelkom.
Maar bo alles bly dit sy gunsteling-tydverdryf om die tuine van die skool te versorg.
“Die blomme maak die skool so mooi lyk en ek geniet dit om die bossies en onkruid uit te trek,” sê hy en voeg by, “Ek leer nog steeds so baie by die skool.”
Hy som sy gunstelingvers in die Bybel op: “Dankie Here vir alles wat U vir ons doen. Ons moenie vergeet wat die Here elke dag vir ons doen nie.” Hierdie vers leef hy ten volle uit en werk elke dag hard om die Here en die skool te dien.
LEES OOK: Laerskool Laeveld learners excited for big school
