Local newsNews

Ashley laat loop

Die tweelingboeties, Ashley en Fabian Grobler, ervaar die lewe heeltemal verskillend van mekaar as gevolg van Ashley se gebrek. Maar dit keer hom nie om dinge aan te pak soos enige 'n normale 12-jarige nie.

NELSPRUIT – Daar is heelwat dinge wat die 12-jarige Ashley en Fabian Grobler saamdoen, soos albasters speel, in oupa Phil Hotlzhauzen se tuin werk, musiek luister en landloop beoefen. Wat dit egter vir Ashley moeiliker as vir sy tweelingboetie maak, is dat hy hierdie aktiwiteite sonder sig aanpak.

Volgens ma Clair is die tweetjies op 27 weke, na ‘n moeilike swangerskap gebore. Ashley se oë is deur ekstra suurstof beskadig wat hy as vroeggebore baba moes ontvang. Hy kan slegs tussen lig en donker onderskei.

Ashley erken self dat hy soms mismoedig voel oor sy lot maar tog pak hy die lewe by die horings – soos die besluit drie maande gelede om met landloop te begin. Die hele affêre was ook ‘n nuutjie vir sy afrigter by Laerskool Bergland, Tian Basson, maar ook hy het die uitdaging aangegryp.

Basson en sy atleet het ‘n kodetaal wat hulle gebruik om die hindernisse wat die veld bied, te vermy. “Vyf!” roep Basson, en Ashley draai skerp regs, sonder om te huiwer. Die stelsel, is op ‘n metode gebaseer wat Basson as ‘n jong kind op televisie gesien het oor ‘n blinde man wat die landspoed-rekord in ‘n motor aangepak het.

Ashley word deur ‘n toutjie aan sy afrigter vasgebind. Die moeilikste deel van hierdie vennootskap is om beserings te voorkom. “Ek het al ‘n paar blapse gemaak,” sê Basson, en vertel van die keer toe hy Ashley aangesê het om links, in plaas van regs te koes.

Ten spyte van die hou wat die seun hier teen die kop ontvang het, asook die ekstra 2,5km wat hy moes hardloop toe hulle verdwaal het, volhard die tiener in die beoefening van dié sportsoort.

Ten einde ‘n beter begrip te verkry van wat Ashley ervaar, het Basson homself ook al geblinddoek en om die landloop-voetpaadjie laat lei. “Dit was verskriklik!” sê hy en sê dit het aan hom die nodige begrip gegee vir die uitdagings wat Ashley in die gesig staar.

“Klein draf!” skree Basson, en Ashley begin dadelik kleiner treetjies gee. Hierdie is die maniere waarop hy sy atleet probeer voorberei op moeilike terrein, want dit is veral enkel- en kniebeserings wat ‘n gevaar vir die seun inhou.

“Ag, ek is al gewoond daaraan dat my bene stamp en seerkry,” sê Ashley en noem dat dít nie sy grootste kwelling is nie. “Nee,” sê hy, “ek hou nie daarvan om te ver te hardloop nie!”

_DSC3589 (Small)

Bo en behalwe landloop, het hy onlangs twee nuwe stokperdjies aangepak, naamlik drom speel en dans. Die jongman sê hy hou nog altyd van musiek maak, en sy droom om dit voor ander mense te doen, is onlangs bewaarheid toe hy as deel van ‘n kerkmusiekgroep begin optree het. Hy skroom nie om sy talent op die djembe- en bongo-dromme te demonstreer nie, Ja, sê hy, en knik sy kop met mening, hy wil van musiek ‘n loopbaan maak.

IMG_0724 (Small)

Fabian is duidelik baie trots op sy broer se prestasies. “Hy probeer my ook leer om drom te speel,” sê hy, maar erken dat dit nie vir hom so maklik is nie. Clair verduidelik dat alhoewel die twee, soos meeste broers, en veral tweelinge, onafskeidbaar is, sy hulle dwing om elk hul eie paadjie te volg. “Fabian is pal aan Ashley se sy om hom te help, so ek moet hom soms ‘n blaaskansie gee sodat hy sy eie lewe ook kan lei,” verduidelik sy. Die twee het elk hul eie beste maats, en Ashley gaan kuier alleen oor naweke by hulle.

Die broers baklei nie regtig nie, sê hulle. “Ons stry net soms,” volgens Fabian. Maar die meeste van die tyd heers daar vrede in die Grobler-huis, en help die twee mekaar met huiswerkies. Fabian het vir Ashley geleer hoe om teksboodskappe op die selfoon te tik, en Ashley leer sy broer om kitaar te speel. “Ek word baie oggende wakker en besef hoe bevoorreg ek is om hom as ‘n broer te hê,” vertel Fabian met ‘n skaam glimlag. Ashley bieg dat hy soms moedeloos en baie keer gefrustreerd voel. “Dan gaan ek maar net weer aan,” sug hy. Dalk is sy broer reg wanneer hy sê hy glo Ashley se lewensgehalte sal verbeter met die regte tegnologie, want hy dink dit is sy broer se grootste wens om deur sy selfoon met vriende te kan kommunikeer. “Ek dink hy wens hy kon self die SMS-boodskappe van sy maats lees,” sê Fabian.

IMG_0732 (Small)

Teen alle verwagtinge in, is Fabian meer teruggetrokke en skaam as Ashley, sê Clair. Op die dansbaan saam met sy maat Melissa Goetze, kom die jong blinde seun se uitgelatenheid veral na vore en hy lag te heerlik terwyl hy en Melissa oor die dansbaan gly – voorwaar iets om te aanskou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button