Botsing van voor eis bestuurder se lewe
Die voertuie het na wat verneem word naby Karino op die N4 teen mekaar gebots.

NELSPRUIT – ‘n Botsing reg van voor op die N4 naby Karino het Saterdagmiddag een van die bestuurders se lewens geëis.
Volgens mnr. Moeti Mmusi, kommunikasiebeampte van die departement van veiligheid en sekuriteit, was ‘n Land Rover Discovery van Kaapmuiden se rigting na Nelspruit onderweg toe die ongeluk plaasgevind het.
‘n Swart Mazda wat in die teenoorgestelde rigting op pad was, het glo omstreeks 16:00 reg van voor met die Land Rover gebots.
Volgens Mmusi is die bestuurder van die Land Rover nie beseer nie maar dié van die Mazda is op die toneel dood.
‘n Werknemer van Van Wettens Insleepdienste, wat op die toneel was, mnr. Willem Swart, het bevestig dat die bestuurder van die Mazda ‘n man was, en dat hy op die toneel aan sy wonde beswyk het. Sy naam is nog nie aan die departement bekend nie.
Daar was nie passasiers in enige van die betrokke voetuie nie.