Megan is so pragtig soos ‘n prinsessie
Hierdie is 'n betowerende storie van 'n prinsessie, Megan Maré (5) wat sopas van Disneyland teruggekeer het.

Sy is as die wenner van die World Championships of Performing Arts, beter bekend as die Olympics of Talent in Los Angeles
gekroon.
Die glansgeleentheid is by die Westin Bonaventure Hotel gehou. Meer
as 40 lande het deelgeneem. Kategorieë het, dans, drama, modelwerk, sang asook
instrumente ingesluit.
“Los Angeles was ongelooflik. Ons was so moeg vir die gemorskos en het baie na ordentelike boerekos verlang. Die ervaring was vreeslik spesiaal en ‘n belewenis,” vertel Megan se ma, Mariaan. Megan het goud vir modelwerk in die informele-, swemdrag-, formele- en fotogeniese kategorie verower. Sy het óók die bedryftoekenning ontvang waar beoordelaars dink sy het ‘n blink toekoms in dié industrie.
“Megan is eintlik ‘n introvert en bietjie skaam. Ons het besluit dat sy baie meer selfvertroue sal opdoen as sy met modelwerk begin. Ek het nooit gedink my kind sal op ‘n verhoog klim nie, want sy het altyd agter my weggekruip en wou met niemand praat nie.
Sy is baie saggeaard met ‘n klein hartjie en nederig omtrent haar prestasies. Sy is dalk nog te klein om te besef hoé groot haar prestasies is, maar dis iets wat ons
haar altyd leer – om nederig te bly. En om altyd dankie te sê vir God vir haar
talent. Sy bid ook altyd voor ‘n kompetisie dat Jesus haar moet help om haar
beste te gee,” het Mariaan gesê.
Megan is soos enige ander sesjarige en speel graag met haar poppe, of juffrou-juffrou, “dress-up” of enige iets wat dogtertjies doen. “Sy is meeste van die tyd kaalvoet en geniet dit vreeslik om saam met haar boetie buite in die modder te speel. Sy is baie kreatief en is mal daaroor om goedjies te plak en haar eie kunswerkies te maak.”Megan het nog nie gedink aan watter kompetisie sy graag volgende wil deelneem nie, maar sy wil vreeslik graag dansklasse begin neem.