Local newsNews

Groen plaasdamme ‘n teken van riool

Grasgroen plaasdamme in die Curlews omgewing wek kommer oor rioolbesoedeling.

CURLEWS – Hulle sal nie waag om ‘n voet binne die einste plaasdam, waarin die kinders ‘n paar jaar gelede nog baljaar het, te sit nie. Oor die afgelope twee jaar het 'n boer van die omgewing se plaasdam, wat deur kanaalwater gevoed word, stelsematig tot grasgroen verkleur.

In ‘n desperate poging om vas te stel wat aan die gang is, het die boer self die kanaalwater laat toets. Resultate het daarop gedui dat daar 'n kommerwekkende hoeveelheid E.coli en ander bakterieë in die water voorkom.

Volgens die White River Valley Conservation Board (WRVCB), is dit waarskynlik te wyte aan rioolbesmetting vanaf Witrivier wat in die kanaal beland. Sewe punte waar rioollekasie-probleme voorkom – in en om die dorp – is deur die WRVCB geïdentifiseer.

Waterkwaliteit in die kanaal is die verantwoordelikheid van die Inkomati Catchment Management Agency (ICMA) van die Departement van Waterwese en Bosbou.

Die water in die kanaal word een keer per maand deur die WRVCB sowel as ICMA getoets, volgens WRVCB se waterbestuurder mnr. Andrew Haig. Hy bevestig dat die resultate gereeld die teenwoordighied van E.coli aandui, met 'n fluktuasie in hoeveelhede.

“Die patroon van resultate oor die langtermyn dui egter op gereelde besoedeling,” volgens Haig. Die WRVCB is van mening dat verskeie plaasdamme in die omgewing groen word as gevolg van alge, wat veral in toestande van rioolbesmetting floreer.

ICMA het teen druktyd nog nie op navrae gereageer nie.

Die betrokke kanaal voorsien ongeveer 50 boerderye van water.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button