Barberton se VLU-vroue vier 80ste bestaansjaar
Wat almal nie aldag besef nie, is dat daar soveel meer as koeksisters en handewerk in hierdie vroue met die vlytige vingers steek.
Vra jy die meeste mense waarmee die woord Vroue-Landbou-Unie geassosieer word, sê hulle dat hulle aan stoere boeretannies, deeg wat geknie word, koeksisters en naaldwerk dink. Dit is soos die meeste van ons die vroue van die toentertydse VLU onthou.
Die manne wat jare gelede diensplig gedoen het, onthou hulle met deernis as dié spesiale vroue wat hulle met bederfpakkies by die trein afgesien het voor hul vertrek om ons land se grense te bewaak.
Wat almal nie aldag besef nie, is dat daar soveel meer as koeksisters en handewerk in hierdie vroue met die vlytige vingers steek. Hulle is, soos die Engelse sê, a force to be reckoned with, en vandag is baie van hulle entrepreneurs uit eie reg en steunpilare in hul onderskeie gemeenskappe.
Die Barberton-tak wat in 1933 deur ‘n ene mevrou Hollebrands gestig is, het verlede week sy 80ste bestaansjaar gevier.
Die vieringe is by die gholfklub gehou en lede van wyd en syd het vir die spoggerige funksie opgedaag. President van Mpumalanga VLU, Rina Potgieter, voorsitter van die Malieveldstreek, Mariette Joubert asook visevoorsitter Malieveld en voorsitter van die Barberton-tak, Kobie Taljaard, was almal deel van die geleentheid. Die eregaste het voormalige voorsitters Wenna Strydom, Ingrid Boshoff en Nella Coetzee ingesluit.
Die vroue is behoorlik onthaal soos dit die VLU betaam. Koek en tee is bedien en ‘n glasie is ook geklink om hierdie besonderse mylpaal te vier, terwyl ‘n strykorkes in die agtergrond gepaste musiek gespeel het.
Die groep kom van Pretoria af en bestaan uit Reinhard, Hettie en Johann Scheppel.
Gedurende die oggend is ‘n oorkonde aan Louise van Niekerk toegeken vir haar halfeeu van getroue diens en toewyding aan die VLU.
Veertig van hierdie 50 jaar wat sy al lid is van die unie, was sy aan die plaaslike tak verbonde en vanaf 1982 tot 1984 het sy as voorsitter gedien. Die SAVLU is in 1925 gestig en dien tot vandag toe as ‘n organisasie waar die vrou menige geleenthede gegun word om haarself te bemagtig.
Dit stel hulle in staat om deel te hê aan die ontwikkeling van hul gemeenskap en skep vele geleenthede om ander te help.
Indien jy graag deel van Barberton VLU wil word, skakel Kobie Taljaard by
071-344-9786.