Petroljoggie-staking bevoordeel seuns
Hulle maak duidelik van hul tienersjarme gebruik om juis goeie tips te kry, soos hulle sal sê.
NELSPRUIT – Vakansietyd bestaan gewoonlik uit tieners wat by hul huise rus of die winkelsentrums oorval. Nie hierdie seuns nie.
André Vorster, Johan van der Westhuizen en Arno Nortje is almal gr. 11-leerders by Hoërskool Nelspruit en het die voortslepende landswye staking van petroljoggies as geleentheid aangegryp om ‘n ekstra geldjie te verdien. Hulle gebruik al die afgelope week hulle vakansiedae om motoriste se tenks by Lincoln Motors oorkant die Tarentaal-Sentrum te vul.
Me. Mariëtte Verryn, bestuurder van die bekende baken wat uit ‘n vulstasie, plaasmark en karwas bestaan, vertel dat sy twee groepe seuns het wat in skofte hul vakansiesakgeld by haar verdien. “Van die seuns kom gooi gereeld brandstof by ons in en toe ons hoor van die stakings, het ek gevra of hulle sou belangstel om hier te kom help. Nou bestaan hulle uit twee groepe van drie wat vanaf 08:00 tot 16:00, of 12:00 tot 21:00 werk,” vertel sy.
“Ons werk baie lekker,” vertel Johan. “Die mense is vriendelik en hulle tip goed as ons diens uitstekend is,” voeg André met ‘n glimlag by. Hulle maak duidelik van hul tienersjarme gebruik om juis goeie tips te kry, soos hulle sal sê.
Vulstasies regoor die land ly die afgelope twee weke onder stakings en sonder vrywilligers soos wat by Lincoln Motors die geval is, moet bestuurders soms self inspring om vir klante brandstof te pomp.
“Dis regtig nie moeilike werk nie, maar ons voete is doodmoeg teen die einde van elke dag. Dis baie lang ure en mens is heeltyd op jou voete,” verduidelik die seuns.
Oor die skoolvakansie wat binnekort tot ‘n einde kom is Mariëtte nie bekommerd nie. “Ons het ‘n ongelooflike gemeenskap, ek kan nie glo hoeveel mense het uit die bloute kom aanbied om in hul vrye tyd as joggies te kom uithelp nie,” sê sy.
En oor die seuns verduidelik sy: “Hulle gedra hulself baie goed, ons het geen probleme nie. Dis goeie seuns.”