Local newsNews

Kleutersentrum vier ‘n dekade se sukses

Chirpy Baba- en Kleutersentrum het op 6 Januarie tien jaar se liefde en sorg vir babas en kleuters gevier.

NELSPRUIT – Chirpy Baba- en Kleutersentrum het op 6 Januarie in volle vaart met ‘n banier, balonne en ‘n groot geraas hul deure heropen, om hul 10de bestaansjaar te vier.

Die sentrum is deur Willie en Linda Roets begin. Sy het in haar agterplaas na die vrugtebome gestaar toe dié idee by haar opgekom het. Sy het die Vader hoor sê dat Hy vir haar dié platform gee en sy Sy fondasie moet lê. Sy het toe gevra “U fondasie Here?”. Hy het geantwoord: “Lê My fondasie van onvoorwaardelike liefde – My Seun Jesus Christus.”

Toe haar man die middag na werk by die huis kom, het sy hom na die vrugtebome geneem en gevra: “Pappa, hoor jy wat ek hoor?” waarop sy vraag was: “Wat hoor jy?”. Sy het toe vir hom gesê: “kinderestemmetjies”. Hy antwoord toe ‘n baie besliste “Nee, ek hoor niks”. Die Here is egter getrou en hy het oortuiging in Willie se hart gebring.

Die naam is gebore met die slagspreuk, Shammah – die Here is daar met Esegiel 48:35 wat onderaan verskyn.

Chirpy se eerste klassie is toe daarmee saam gebore met die naam Shalom. Daar is drie babas in die motorhuis wat Willie in ‘n woonstel omskep het, gehuisves. Die eerste jaar het die Here se seën in soveel oorvloed op hulle neergedaal, dat hulle plan moes maak. Willie het toe so pas sy motorhuis klaar gebou, maar het egter nie op daardie stadium die voorreg gehad om sy voertuig daar te parkeer nie, want die lyfies moes na ‘n groter lokaal skuif.

In die derde bestaansjaar het die inskrywings verdubbel, soos die behoefte vir baba-, peuter- en kleutersorg toegeneem het. Weereens moes daar ‘n plan gemaak word, en die Vader is vir leiding vertrou. Die Heilige Gees het hulle terug na die vrugteboord gelei en herinneringe van drie jaar tevore het opgekom, waarna hulle tot ‘n besef gekom het dat ekstra klasse inderhaas gebou moes word. So het die Moses-, Noag- en Halleluja-klassies ontstaan.

Gedurende 2007, het die ouers vir Linda genader om met ‘n vier-jarige klassie te begin. Sy het toe steeds in die huis waar Chirpy op dieselfde perseel bedryf word, gebly. Steeds was die Here getrou. Hy het voorsien dat hulle die huis agter die skool kan koop, en die huidige huis in nog twee ekstra klassies en ‘n kantoor omskep. So is die Immanuel en El-Shaddai klassies gebore, vir die vier- en-vyf-jarige groepies. Willie se motorhuis word toe die stoor-en-personeel kamer en hy het later, by hulle nuwe huis, eers sy motorhuis gekry.

“Die afgelope 10 jaar kon ek net die Here se goedheid en guns by Chirpy beleef. Die geestelike, fisiese en emosionele ontwikkeling van elke klein lyfie is ons beloning. Ons personeel weet ook dat Chirpy veel eerder ons bediening is as ons werk. Ons fokus is die kind en sy/haar behoeftes,” sê Linda.

Chirpy het van krag tot krag gegaan in die Here. Alhoewel daar verskeie uitdagings die afgelope 10 jaar vir hulle was, het die Here hulle deur elkeen gedra. Goeie verhoudings is gebou tussen personeel en ouers. Chirpy bied jaarliks ‘n sportdag, mamma bederf-oggend, oupa- en ouma-dag asook ‘n konsert elke tweede jaar in die teater aan.

“Met die Here se genade, Sy onverdiende guns en onvoorwaardellike liefde berei ons die lyfies voor vir die laerskool. God se belofte aan my is dat nie een van die kindertjies verlore vir Sy koninkryk sal gaan nie. Hulle sal wees soos bome wat geplant is by waterstrome,” voeg Linda by. “Nie op grond van wat ek en personeel doen nie, maar omdat Hy getrou is.”

Nie net is dit ‘n nuwe seisoen wat aanbreek vir hulle nie, maar hulle besef ook weer dat die Here se goedertierendheid elke oggend nuut is. Willie en Linda se dogter Jessica, is hierdie jaar as hoof by Chirpy aangestel en sal voortbou op die fondasie wat gelê is.

Linda wil graag die volgende mense vir 10 wonderlike jare bedank. “My sielsgenoot, my hulp, my klankbord, Willie – sonder wie ek dit nie sou kon maak nie. Dankie pappa, saam het ons geplant, ander gee water en die Here laat groei. Al die ouers van 2004 tot nou, dankie vir die vertroue in my en my personeel en die vooreg om jul kosbare besittings te kan liefhê, help opvoed en leer. Dankie dat jul my arms omhoog gehou het wanneer ek gevoel het dinge raak te veel. Aan ons personeel, ek is baie dankbaar vir elke een van julle, ook die wie se seisoen by Chirpy tot ‘n einde gekom het. Sonder julle sou dit ook nie moontlik gewees het om dié diens te lewer nie.”

Back to top button