Local newsNews

Sondag se aansit by ‘n boerebistro vir die Lekkerbekke

Om ook 'n bietjie nut te toon is die Lekkerbekke deesdae besig om te bepaal watter van die Sondagmiddagetes wat in die Laeveld op aanbod is, die voortreflikste is.

Nadat die jaar met ‘n hartlike ete by Bosveld Lodge se Boskoslapa afgeskop het, was dit A Bica by die Belladonna-sentrum in West Acres, waar die Lekkerbekke hierdie keer aangesit het. A Bica is ‘n soort espresso-koffie op die Portugese manier.

Gedurende die week is Petru Pretorius se A Bica ‘n bistro in die ware sin van die woord. Die wellewende Arnoldo Paulo is Pretorius se sakevennoot. Sy maak een gereg per dag teen ‘n redelike R50 per ete. Jy kan kom aansit, ‘n wegneemete bestel of jou eie bord kom hou, want teen sewe-uur saans maak sy toe. Ek weet nie hoe lank sy nog hierdie prys sal kan volhou nie, maar die gehalte van die kos is uitstekend – en oorgenoeg. Op die oomblik is die gekrummelde varkkotelet met kapokaartappel en sous my gunsteling. Haar spyskaart vir die week verskyn op meeste van die plaaslike Facebook-groepe. Ek sien dit elke Maandag op die groep, Laevelders.

LEES OOK: Laeveld Lekkerbekke besoek Zest

Deur my lewe van aansit op talle plekke was daar dikwels gunstelinge waarheen ek gereeld gegaan het en soos ‘n kind des huise kon voel – oor stede en selfs lande heen. Ek moet my geheue toets en weer ‘n lys hiervan maak. A Bica sal ook daarop verskyn.

Op Sondae hier by A Bico is dit die familiebuffet teen R130. Boerekos uit die boonste rakke. Alles. Met ons besoek was die vier vleisgeregte geurige skaapboud, gerookte ham, gebraaide tiemiehoender en van die lekkerste bobotie. Ek dink mens moet ‘n plaaslike bobotie-proe hou. Hierdie een sal goed vaar.

LEES OOK: Die Laeveld Lekkerbekke kuier by Orange

My problem met ‘n Sondagbuffet is die ooreet. Ek hou nie van die self opskep nie. Die keuses lyk altyd te lekker en dan skep mens te veel in. In hierdie geval was dit weer die pampoenkoekies en karamelpatats wat net so wel nagereg kon gewees het. Gelukkig is dit net sommige Sondae wat mens aan sulke versoekings blootgestel word.

Die wyn was Distell se Two Oceans. Dis die Suid-Afrikaanse wynreeks wat deesdae die beste in Kanada verkoop. Marius de Beer van Distell in Mpumalanga het die Sauvignon Blanc en die Cabernet/Merlot-versnit voorgesit. Die yskoue Sauvignon Blanc is dikwels my keuse met ‘n lekker Sondagmaal op ‘n warm Laevelse dag – soos by die Karula Hotel waar ek ook graag op Sondae aansit. Sy stalmaat, Two Oceans se Pinot Grigio is toevallig my suster se somergunsteling aan die ander kant van die wêreld in Kanada.

LEES OOK: Lekkerbekke steek duim op vir Oreganum se kos

Die beoordeling geskied so. Dertig eters moet uit 20 punte bepaal. Vyf vir atmosfeer en die plek, 10 vir die kos se gehalte en smaakgenot en vyf vir prys en aanbod. A Bica het 16,7 uit 20 gekry. Die Boskombuis by Bushveld Lodge 14,7. Dit is in albei gevalle redelike hoë punte. Die klomp ou Lekkerbekke kan ook maar puntenerig wees. Mense soos Tom Farmer en Elsa Cloete, en om glad nie eers van Joan Pretorius, Jeanette Nel en Cobus Engelbrecht te praat nie.

Bespreek ‘n ete of bel en hoor wat vir die dag op die spyskaart is op 073 329 9238.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button