NKW onder groot druk weens toenemende strikke
Vyf ernstig beseerde diere is van Phabeni in die suide tot Punda Maria in die noorde, aangemeld.

SKUKUZA – Die luiperdwyfie wat verlede week met ‘n lokstrik om haar nek in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) opgemerk is, is Maandagoggend vroeg deur ‘n fotograaf en safarigids, mnr. Arno Pietersen gevind nadat hy haar welpies by Twee Koppies in Phabeni gewaar het.
Veldwagters het hulle daarheen gehaas om die wyfie met ‘n verdoofpyl te skiet maar die opeenhoping van verkeer het hulle planne in die wiele gery. Hulle sou haar later met klanke probeer lok om har te verdoof.

Corridor Gazette se susterskoerant, Laevelder, het Vrydag al oor die wyfie berig wat mnr. John-Michael Backos Donderdag skuins na 16:00 vyf kilometer op die S-65 met ‘n lokstrik styf om haar nek opgemerk het. ‘n Veldwagter van Skukuza, mnr. Kally Ubisi, en veeartse het onmiddellik na haar gaan soek nadat hulle deur me. Lize Roos Bester van die bewaringsgroep, Enough is Enough daarvan in kennis gestel is, maar kon haar nie vind nie.
Die luiperd is Sondag deur ‘n veearts van Witrivier, me. Carien le Roux by ‘n watergat gewaar. Sy het aan Laevelder bevestig dat sy deur haar verkyker die lokstrik om die dier se nek kon sien.

Dit het nie in haar vel gesny nie en sy het nie gesukkel om asem te haal nie. Lokstrikke en beseerde diere in die NKW kan by dié groep vrywilligers aangemeld word. Hulle werk nou saam met Kruger Wildlife Sightings.
Dit was een van vele lok- en wurgstrikke wat die afgelope vyf dae hoofbrekens vir personeel en vrywilligers in die NKW besorg het.
Vrydag is ‘n beseerde buffel net na 07:00 op die S-1 2,5km van Phabeni af gesien. ‘n Strik het diep om sy middellyf ingesny.

Teen Sondagaand was hy nog nie opge-spoor nie hoewel die gebied se veldwagter heeldag na hom gesoek het.
‘n Leeu met ‘n erge wond en ernstige infeksie om sy middellyf is Sondag op Punda Maria se sirkelroete by die groep aangemeld. By nadere ondersoek is ontdek dat hierdie leeu reeds op 17 Maart deur ‘n Duitse besoeker, mnr. Udo Clement by kamppersoneel aangemeld is.
Clement het ‘n foto geneem waarop die lokstrik maar geen wonde sigbaar is. ‘n Onlangse foto het gewys hoe diep die lokstrik in die vel ingesny het. Veldwagters is nou op soek na die leeu.
Sondagoggend is ‘n hiëna op die Fayi-sirkelroete met ‘n lokstrik om sy lyf by Pretoriuskop se veldwagters aangemeld.
‘n Veearts het die dier opgespoor en haar met ‘n verdoofpyl geskiet, maar sy het weggehardloop. Maandagoggend het hulle probeer om haar uit ‘n afvoerpyp nader te lok.
Pretoriuskop se veldwagters het weer op hulle beurt die groep Saterdag versoek om op die uitkyk te wees vir ‘n wildehond op die S8.

Teen Maandagoggend is beide die hiëna en wildehond in dieselfde gebied opgemerk en veeartse is gestuur om hulle te vind. Die wildehond het vermoedelik reeds self van die strik ontslae geraak en sy wonde is deur mnr. Grant Beverley, ‘n wildehondnavorser, behandel.
Bester het die hele naweek die soek-prosesse gekoördineer. “Hoe vroeër in die dag ons kan begin soek, hoe beter. Die dae is nou so kort.”
Mnr. Grant Coleman, voorsitter van SANParke se ereveldwagters, sê dat hulle as ‘n groep ten minste een keer per maand probeer om lokstrikke in die NKW te lig.
“Dit is ‘n baie komplekse probleem,” sê Coleman. Me. Mandi Malan wat gereeld op sulke ekspedisies gaan, sê dat die gras tans te lank en die bosse te ruig is om lokstrikke te kan lig. “Ons kan nie sien nie en loop in die buffels vas,” verduidelik sy.
• Skakel die lokstrikgroep se noodlyn by 082-458-6227 indien jy ‘n beseerde dier sien.
