Nog ‘n uitstekende musiekuitvoering by skoolfees
Mozart se Requiem wat die naweek by Uplands Festival aangebied is, was gewis een van die hoogtepunte wat die plaaslike Laeveld Kamermusiekvereniging tot nou toe hiernatoe gebring het.

WITRIVIER – Dié keer met Joann Kulesza as dirigent, het die kunsresensent Paul Boekkooi ‘n vorige uitvoering hiervan in ‘n resensie in Beeld van 6 April soos volg beskryf: “Hierdie uitvoering van Mozart se Requiem, asook die kort maar aangrypende ‘Ave verum corpus’ vir koor en strykers, was sonder twyfel een van die min hoogs bevredigende en inspirerende uitvoerings van dié werke wat hierdie resensent in 40 jaar ervaar het.”

Met die begaafde violis Zanta Hofmeyr as konsertmeester en bekende musici soos Charl du Plessis agter die klavier, was dit ‘n middagkonsert waarna die plaaslike musiekliefhebbers kon uitsien en terdeë geniet.
So kon ‘n vol saal mense in die tweede helfte ook luister na die gewilde Charls du Plessis Trio, saam met Hugo Radyn en Werner Spies. Gershwin se Rhapsody in Blue, Jobim, Moreaes en Norman se Girl from Ipanema, en twee verwerkings van Du Plessis self is ook gespeel.

Dikwels na so ‘n uitvoering van wêreldgehalte, staan ‘n mens verstom oor die werk en deursettingsvermoë van ‘n man soos Walter Fourie en sy Laeveld Kamermusiekvereniging. Om in die vervolg meer sulke plaaslike musiekgeleenthede te skep, is ondersteuning en bywoning nodig.
Skakel Walter Fourie by 072-966-5197 of lowveldchambermusic@gmail.com om betrokke te raak.

