Local newsNews

Jannie du Toit maak musiek so uit die hart

In die 46 jaar wat die sanger en liedjieskrywer Jannie du Toit deel van die Afrikaanse musikale landskap is, het hy voorwaar diep spore getrap en 'n besondere bydrae gelewer.

MBOMBELA – Jannie was ‘n rolspeler in die Musiek-en-Liriekbeweging wat Afrikaanse musiek in die tagtigerjare in ‘n opwindende nuwe rigting gestuur het.

Jannie het vroeg in sy loopbaan besluit om net musiek te maak wat uit sy hart kom. Dit was sy pragtige “‘n Liedjie vir jou” wat in 1981 vrygestel is, wat veral vir die groot deurbraak gesorg het. Vandag is hierdie liedjie al deur verskeie ander kunstenaars opgeneem en selfs in Chinees en Spaans vertaal.

In 2012 het Innibos Jannie vir sy lewenslange bydrae tot die skryf van Afrikaanse musiek vereer. Hy is ook in 2008 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met ‘n erepenning vir sy buitengewone kultuurbydrae tot Afrikaans bekroon. Jannie is ook een van die ambassadeurs vir Afrikaans.com vanweë sy liefde vir die taal.

Om in Afrikaans musiek te maak, het hom nog altyd besonder na aan die hart gelê.

“Indien jy in Engels musiek skryf, is daar soveel clichés beskikbaar en daarom is dit relatief maklik om dit te doen.

Baie ouens sê dit is so moeilik om liedjies in Afrikaans te skryf. Maar wanneer ‘n mens luister na liedjieskrywers wat wel die moeite gedoen het om dit in Afrikaans te doen, dan kom jy agter dis iets wat meer uit die hart uit kom. Dan is dit die taal en die tong en die hart wat op dieselfde plek staan,” sê Jannie.

By vanjaar se Innibos-fees is Jannie in twee produksies te sien. Hy en die kitaarspeler en sanger Thean Kotze, wat ook deel van Ses Snare vorm, bring hulde aan Lucas Maree in die produksie, Kiekies.

Hulle sing Lucas se bekende en minder bekende liedjies, deel sy kwinkslae en hul persoonlike herinneringe aan die ou Groot Beer, soos sy vriend Coenie de Villiers hom genoem het. Maree se musiek het nog altyd oud en jonk bekoor en hierdie twee ervare verhoogkunstenaars se vertolking is besonders.

In die ander produksie, Bonjour Monsieur Brel, wys Jannie waarom hy reeds in die laat tagtigerjare ook in Europa naam kon maak. Hy het in 1988 vir die eerste keer die musiek van Jacques Brel professioneel uitgevoer.

Dit was in die produksie, Van Berlyn tot Bapsfontein wat hy saam met Laurika Rauch aangepak het. In hierdie nuwe produksie sing hy Brel se beeldryke tekste in vier tale en word deur Susan Mouton op die tjello en Coenraad Rall op klavier en akkordeon gebegelei.

Jannie toer in September en Oktober na die Lae Lande met sy produksie, Doep is nie dood nie en Bonjour Monsieur Brel. Sy mémoire wat die verhaal vertel van sy 40 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf, heet Onderweg.

Nes die troebadoere in die Middeleeue is Jannie steeds onderweg met sy musiek en verskaf hy vreugde sover as wat hy gaan.

Bonjour Monsieur Brel: Vrydag 7 Julie om 14:00 by Stuttaford Laeveld Laerskool
Kiekies – Lucas se liedjies: Saterdag 8 Julie om 10:00 by Nelspruit Primary
Kaartjies is by Computicket beskikbaar. 
Vir meer besoek innibos.co.za, afrikaans.com en agterplaas.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button