‘n Stroopsoet-oorwinning wag op lekkerny se drie bobaasbaksters
Bobaasbaksters spook dit van vandag af uit om as die Huletts Koeksister Kampioen vir 2017 gekroon te word.

Dit is die sesde jaar dat dié gesogte kompetisie, met prysgeld van R100 000 op die spel, by Innibos aangebied word.
Lenise Erasmus vanaf Hoopstad, Daleen van Schalkwyk van Benoni sowel as Ilana Uitenweerde en Diana Wessels van Pretoria wat as ‘n span bak, is as die drie finaliste aangewys.
Meer as 130 inskrywings is in totaal ontvang en deur lede van die Suid-Afrikaanse Chef’s Vereniging en die VLU beoordeel. Elkeen van die drie finaliste het 3 000 van hulle koeksisters aan die Huletts-stalletjie by Innibos opgelewer. Feesgangers kan hierdie week aan hulle kom proe en vir hul gunstelingkoeksister stem.
Die finalis met die meeste stemme sal as die Huletts Koeksister Kampioen 2017 gekroon word en met die kontantprys wegstap.
Muskiet het onlangs met verlede jaar se wenner, Retha Skein (74) opgevang. Haar lewe het serdert die kompetisie onherroeplik verander. Sy kon met haar prysgeld haar eie bakkery in Caledon in die Wes-Kaap begin.
“Ons maak vordering en is op pad om uit te brei,” sê sy. Die hoofproduk is koeksisters, maar klante kan ‘n verskeidenheid gebak vind. Haar raad aan vanjaar se deelnemers is om die proses te geniet.
Die drie finaliste is vuur en vlam. Lenise is ‘n professionele sjef. Haar koeksisterresep is ‘n ou staatmaker in haar familie: dit is maklik en verg min bestanddele, maar het tog ‘n unieke smaak.
Daleen sê dat, as enigste dogter was dit haar taak om elke Saterdagmiddag soetgoed vir die naweek vir haar pa en vier broers te maak. Sy bak tans vir koffiekroeë.
Ilana en Diana ken mekaar al vir baie jare en het hul vriendskap in n besigheid oorgesit: Twist Koeksisters. Hulle pak elke dag aan saam met vier vroue uit hulle gemeenskap. Hul resep se geheim is hóé die bestanddele gebruik word.
Vanjaar se koeksisterkampioen word Saterdagaand op die feesterrein se hoofverhoog aangekondig. Moet dit nie misloop nie.
