Jongman kom op vriend se lewelose liggaam af – kry ma in plas bloed
Die plaasbestuurder is na bewering met sy hande agter sy rug vasgebind, in die hart geskiet.
KOMATIPOORT – “Hy het dit nie verdien nie, hy was nog so jonk en het sy hele lewe voor hom gehad.” Só sê ‘n jare lange vriend van Deon de Bruyn, ‘n 25-jarige jongman wat Sondag tydens ‘n plaasvaanval, noodlottig gewond is.
De Bruyn, plaasbestuurder van Simonsvlei, is na bewering met sy hande agter sy rug vasgebind, in die hart geskiet. Hy is op slag dood en Estelle Jansen, by wie hy gebly het, is drie keer geskiet maar het die aanval oorleef.
Jansen vertel dat sy omstreeks 09:00 op haar bed, in die son gesit en koffie drink het toe ‘n man skielik voor haar verskyn het.
“Ek onthou hoe ek gedink het, ek moet hom hier uit kry, hier’s moeilikheid,” het sy vertel. Sy vertel hoe haar eerste reaksie was om hom ‘n harde skop te gee. “Na ‘n gestoei is ons saam by die deur uit. Ek het geskree om hulp, maar ek het my in nog twee rowers vasgeloop. Die volgende oomblik toe klap die skote,” het sy gesê.
Ek wens daar was iets wat ek kon doen om hom te laat lewe. Hy het dit nie verdien nie.”
Sy onthou dat dit die laaste keer was wat sy vir Deon lewendig langs haar sien staan het. Twee skote het haar in die maag getref, en ‘n derde het haar hart met millimeters gemis. Sy het grond toe geval en voorgegee asof sy dood is terwyl ‘n verdagte haar na bewering geskop het en aangedring het op kontant.
“Ek het doodstil gelê, terwyl een van die verdagtes ‘n reuklose olie om my skouer uitgegooi het,” vertel sy. “U’file,” het een van die boosdoeners gesê. U’file is ‘n disrespekvolle Shangaan-term om te sê iemand is oorlede.
Haar seun, Elmer wat in sy kamer was tydens die aanval, het die gedoente gehoor en gaan ondersoek instel. Die boosdoeners was glo besig om die huis te plunder. Hy het geskree en hulle het laat spaander.
Buite het hy De Bruyn, sy jare lange vriend en ma in twee afsonderlike plasse bloed sien lê. “Ek kon sien hy’s dood. Ek het sy pols gevoel, maar daar was niks, net ‘n rooi kol op sy hart,” het Elmer vertel. De Bruyn is vermoedelik oorval toe hy emoes op die plaas gaan voer het.
Toe hy by sy ma kom, het sy haar oë oopgemaak en met hom gepraat en gesê wie om te bel. Binne minute was Securicon Nooddienste, gevolg deur dr. Mel en dr. Theo Stronkhorst op die toneel. “Dit was merkwaardig hoe vinnig en effektief almal op die toneel gewerk het,” het Elmer, ‘n student van Noordwes-Universiteit wat met sy meesters besig is, vertel.
Hy sou Sondagoggend eers van Potchefstroom af deurry om vir sy ma te kom kuier. Sy verjaar vandag. “Was dit nie vir die feit dat ek vroeër gery het nie, het ek dalk op twee liggame afgekom,” het Elmer vertel.
“My kop sê nog vir my dis nie waar nie. My kop sê nog ek sal huis toe gaan en vir Deon daar kry,” het Jansen gesê.
“Ek wens daar was iets wat ek kon doen om hom te laat lewe. Hy het dit nie verdien nie.”
Sy wil graag haar dank betoon aan almal wat haar en haar familie ondersteun, en aan die spoedige reaksie van almal wat na die toneel ontbied is.
Field rangers arrested for suspected rhino poaching