MBOMBELA – Te oordeel aan die gesigte van sommige motoriste, was hulle Dinsdagoggend baie verbaas deur die ongewone affêre wat langs die R40 afgespeel het. Die personeel van Umbali Events was reeds van vroegoggend af besig om stoele en tafels op die gras voor Town Lodge op te stel vir 07:00 se groot oomblik: Die “troue” van Walter Fourie en Sue-Mandie Sinden. “Hierdie is wragtig die enigste keer wat ek met ‘n vrou gaan trou,” het Fourie met ‘n groot glimlag gesê en ‘n ring aan sy nuwe “vrou” se vinger gesteek. Die paartjie is deur hul “gaste” en die verkeer toegejuig.
Sue-Mandie Sinden, Theresa Schoeman, Nadja Shaw en Alicia Whitting.
Na die seremonie is hulle egter in afsonderlike motors weg en as ‘n mens met van die gaste praat, kom jy agter dat die bruid en bruidegom mekaar eers daardie oggend ontmoet het.
Iewers lui die trouklokkies nie lekker nie, maar Theresa Schoeman, eienaar van Umbali, werp lig op die onderwerp. “Dit is alles deel van die bemarking van Umbali se opedag hierdie Sondag,” sê sy en verduidelik dat alhoewel die oggend baie pret was, die paartjie nie regtig getroud is nie.
Die bruidegom, Walter Fourie en bruid Sue-Mandie Sinden.
“Ons wou die pret van troues vasvang en vir mense wys dat troues nog lekker is,”
sê Schoeman.
Die opedag gaan ‘n verskeidenheid stalletjies hê: alles van blomme en koeke tot rokke en fotograwe en moet beslis nie misgeloop word as jy van plan is om binnekort af te haak nie.
Die gaste vir die troue was voor: Monday Nkosi, Bheki Malamule, Martha Mahlalela, (agter) Jeannet Mavuso, Promise Nkosi, Louis Ngwenya, Alexander Nyuke en Prince Ngwenyama.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!