Local newsNews

Só kry mens die Laeveld aan die Rock

Die eerste BosRock wat Saterdag by Kwanyoni Lodge gehou is, was 'n luide en dawerende sukses soos net die Laeveld kan optower wanneer hulle saamwerk om iets nuuts te skep.

MBOMBELA – BosRock was ‘n vennootskap tussen Laevelder, Mahindra Nelspruit, Storm Produktionz en Kwanyoni Lodge.

Volgens Julia Burger, bemarkingsbestuurder vir Laeveld Media, is sowat 750 betalende rockliefhebbers van alle ouderdomme die dag deur die hekke.

“Elke mens wat daar was, het sy eie hoendervleisoomblik beleef,” sê sy.

Foto: Abré van Wyk | Iconic Management

Daar was baie oomblikke om van te kies en te keur, van die Ruiters van die Nag wat hulle stel met The Doors se “Riders on the Storm” afgeskop het, tot Mel Botes (met sy seun op dromme) se Pink Floyd-huldeblyk.

Foto: Abré van Wyk | Iconic Management

Die Ruiters bestaan uit van die beste elektriese kitaarspelers in die land met Botes, Valiant Swart, Piet Botha, Robin Auld en die Akkedis-broers Rudi en Arthur Dennis wat saam opgetree het.

Hulle is deurgaans afgewissel en elkeen het die gehoor ook op sy eie treffers trakteer soos Robin se “All of Woman”, Botha met “Middernagtrein”, en Swart se “Vloek van die Kitaar”.

Foto: Abré van Wyk | Iconic Management

Boonop het hulle ook kragte saamgespan om klassieke treffers van Jimi Hendrix, ZZ Top, Bob Dylan en die Rolling Stones en nog wat, te speel.

The Black Cat Bones se manne het ook saam met hulle opgetree en Rudi het aan die einde van die aand weer saam met The Black Cat Bones ge-jam.

Hulle was vir baie van die ouer garde ‘n absolute openbaring en vir van die jongeres ‘n hoogtepunt.

SIEN OOK: The artists explain all the reasons to rock at BosRock

Vooraf het plaaslike groepe Gibraltar en Goat N Hare asook Jonathan Peyper se rock en blues die gehoor opgewarm. Solid Ground, Voodookudu en Catharsis kon vooraf ook optree.

Foto: Abré van Wyk | Iconic Management

Die musiekvertonings is kortliks onderbreek om die Springbok vs. All Black-rugbytoets uit te saai. Nie eens die verloor met twee punte kon egter die partytjie demp nie.

Met rustyd het ‘n Huey van Kishugu ‘n draai kom vlieg, ‘n groot verrassing vir die gehoor.

IN ANDER NUUS, LEES OOK: Former Skukuza captain accused of poaching is released on bail

Botes sê die konsert was absoluut wonderlik. “Dit was ongelooflik. Dit was geweldig goed georganiseer. Ons is almal in ons noppies met mekaar se toegewydheid.

Foto: Abré van Wyk | Iconic Management

“Die hoogtepunt vir my was waarskynlik dat dit altyd lekker is as dinge bymekaar kom en om daardie eerste note te speel. Die opgewondenheid wat geheers het was ook regtig spesiaal.”

Cas Kolbé van hoofborg Mahindra Nelspruit het beaam dat BosRock volgende jaar definitief groter sal wees. “Vir ons eerste jaar het dit regtig goed gegaan. Almal het die musiek geniet.”

Foto: Abré van Wyk | Iconic Management

“Dit was ‘n trotse Laeveld-produksie,” het Burger bygevoeg. “Die plaaslike gemeenskap het voorwaar hande geneem om hierdie ‘n sukses te maak.

“Dit sal beslis weer in 2019 aangebied word,” sê sy. “Ons kan nie die publiek se positiewe terugvoer ignoreer nie.”

Die 2019-datum vir BosRock sal aangekondig word sodra dit bevestig is. Maak julle maar solank reg om weer hard te rock.

Sien meer foto’s hier

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button