Local newsNews

Bistro-Bistro ‘n vernuwing op die Laeveld se uiteettoneel

Die Laeveld Lekkerbekke is 'n groep tafelgenote wat die afgelope jare al, maandeliks by plekke aansit.

MBOMBELA – Bistro-Bistro is ‘n eiesoortige kleinerige eetplek met ‘n flair van sy eie. Dit is ‘n tipiese straatkafee wat ‘n mens liewer teen ‘n sypaadjie of op ‘n plein in Parys sou verwag.

En nou praat ek van Frankryk, nie die dorp op die oewer van die Vaalrivier kort onderkant die barrage nie!
Die plaaslike sakeman en fynproewer, Piet Potgieter het presies geweet wat hy wou doen toe hy en sy vrou Steph, ‘n jaar of wat gelede hier by die Steiltessentrum deure geopen het. Piet is ‘n gesoute wêreldburger – en so is sy plek.
Die Laeveld Lekkerbekke is ‘n groep tafelgenote wat die afgelope jare al, maandeliks by plekke aansit. Dit gebeur min dat daar meer as een keer by dieselfde plek geëet word. Bistro-Bistro het eers vandeesweek aan die beurt gekom.
Pongracz Noble Nectar Demi-Sec Cap Classique as verwelkomingsdrankie het die luim bepaal van gemoedelike samesyn en die vooruitsig op uitstekende kos
en wyn.

Die voorgereg – vark-en-hoendersatay met ‘n branderige, soet sojasous en die ander met ‘n grondboontjie-rissiesous, bedien met focaccia en soet piekels, was een van die lekkerste smaaksensasies wat ek lanklaas geproe het. Steph sê dit was een van haar gunstelingsmaakontdekkings op ‘n besoek aan Bali. Sy het dit tuis kom namaak en vervolmaak.

Daar was twee hoofgeregte om van te kies: Wildspastei volgens ‘n ou tuisresep met ‘n radysslaaitjie met ‘n soet vinaigrette, pomfritter of dun gesnyde aartappelskyfies bedien met ‘n uitsonderlike ryk rooiwyn-en-murgsous. Beslis die beste van die gereg.


Die meer gewilde keuse was die geroosterde halwe jonghoender, goed bedruip met ‘n uitstekende peri-peri-sous, ook bedien met die skyfies en twee ferm gestoomde koningsgarnale met ‘n pikante roketgroenslaai as bygereg.
Die varsgebakte Tuile-horinkie gevul met ‘n gemmermousse en effe suur appelkoossous as nagereg was beslis uitsonderliks.


In die Franse terme is ‘n bistro ‘n plek waar ‘n mens alledaagse kos eet – keurig en met Franse sorg voorberei. Dikwels slegs ‘n plat de jour of ete van die dag. Bistro-Bistro is darem bietjie meer as dít en bring ‘n vernuwende keuse van geregte en smaaksensasies aan die Nelspruitse uiteter.
So ook die wyn. Fleur du Cap wat in die laat jare sestig een van die eerste keurwyne uit die Ruperts se Bergkelder was, wat destyds ‘n totale vernuwing op die Suid-Afrikaanse wyntoneel gebring het. Vandag nog – en met sy nuwe biljet en jongste wynmaakmetodes – bly dit een van Suid-Afrika se gunsteling- topgehalte wyne.
Op die tafel was die Sauvignon Blanc en die uitstekende Pinotage wat die internasionale Vivino wynkeuringstoep ‘n goeie 3.8 gee wat binne die 20 % beste wyne van die wêreld val.

Ek heg nogal goeie waarde aan die mening van die onafhanklike Laeveldse gourmand en skrywer van ‘n plaaslike kosblog, Mankos, Colyn Serfontein. Min stel hom tevrede en hy huiwer nooit om sy telleurstelling oor ‘n eetplek uit te spreek nie. Oor Bistro-Bistro was sy mening onlangs egter heel gunstig.

Lees ook: Die vyf belangrikste reëls vir ‘n suksesvolle braai 

Phat Boys in Witrivier is ‘n Laeveldse instelling

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button