Van spogoord tot vervalle kwarantynfasiliteit
Die Zithabiseni oord, waar 108 mense in kwarantyn gehou word, was eens op ’n tyd een van die destydse Oos-Transvaal se gewildste oorde, met ellelange waglyste vir vakansiegangers.
Die oord, was bekend as “Die Bron”.
Die Bron het gister vir ’n gebrom gesorg, nadat ’n bom gebars het oor die toestande by die kwarantynfasiliteit.
Foto’s van vervalle rondawels en ’n stortingsterrein waar bobbejane en ape baljaar, is op sosiale media gesirkuleer. ’n Insetsel oor die toestande is ook op e.tv Nuus gewys.

Mnr. Leon Nel, wat saam met sy gesin, Melanie, Léo (3) en Alexander (1), by Zithabiseni in kwarantyn is, nadat hulle vanaf Mosambiek daarheen gebring is, sê hulle het Woensdagaand ’n vergadering gehou oor die klagtes en daar is intussen aan van die klagtes aandag gegee soos om die voëlmis by rondawels te verwyder.
Volgens hom gaan die klagtes egter nie net oor die gehalte van die kos en die fasiliteite in die algemeen nie, maar die gesondheidstandaarde wat toegepas word.
Die personeel pak glo ’n taxi in die middae vol en keer terug na hulle huise om die volgende dag weer te werk.
Daar is veral groot kommer oor hoe die kos voorberei word.
Daar is al ’n oogwimper en hare in die kos gekry.

Sy vrou, Melanie, sê van die kinders was al 26 uur sonder kos. Mense het nie water gekry die eerste dag nie en die bobbejane ontlas in die waterputte.
Mense wat wel die kos geëet het, het diarree gekry.
Die stortingsterrein word nie net gebruik om die kampafval weg te gooi nie, maar ook mediese-afval. “Die bobbejane en ape is bedags op daardie stortingsterrein en kan daardie afval terug bring na ons slaapplekke toe,” kla hy.
Die Bron is in ’n natuurreservaat met warmbron en is in die laat 1960’s ontwikkel.
In 1986 het die Transvaal Provinsiale Administrasie die oord gekoop een aan die KwaNdebele regering geskenk wat die naam verander het na Zithabiseni.
Die veral van die eens pragtige oord het daarna begin en waar duisende vakansiegangers baljaar het is nou ’n vervalle kwarantynfasiliteit.

Na 1994 het die oord verskeie kere van eienaars verwissel van Mpumalanga Parkeraad tot die Departement Landbou, Departement Omgewingsake en Toerisme en uiteindelik die Departement Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewingsake en Toerisme.
Dumisane Malamule het www.mobserver.co.za na die Mpumalanga Departement van Toerisme verwys, wat nie bereik kon word nie.

Die VF Plus het pas in ’n verklaring die volgende gesê:
“Die VF Plus spreek sy skok en afgryse uit oor die haglike kwarantyn-omstandighede waaronder mense wat vanaf buurstate in Suid-Afrika aankom, vir veertien dae moet tuisgaan.
Dit is niks minder nie as skandalig hoe die Suid-Afrikaanse regering hierdie mense – baie van hulle Suid-Afrikaanse burgers – hanteer. Die tonele van die Zithabiseni-konferensiesentrum in Mpumalanga is haglik en onbewoonbaar.
Net soos by die ander fasiliteite waaroor die VF Plus die afgelope maand klagtes ontvang het, ontbreek algemene higiëne, skoon water, badkamergeriewe en selfs elektrisiteit.
Dit is ’n skande hoe die kwarantyngeriewe lyk en dit is onaanvaarbaar dat die departement van gesondheid en openbare werke en infrastruktuur dit beskikbaar gestel het vir hierdie doel. Daar moet nou duidelikheid gegee word oor al hierdie geriewe sodat behoorlike oorsig daaroor gedoen kan word.
Die jongste tonele maak dit duidelik dat geen inspeksies vooraf deur die betrokke departemente gedoen is nie. Hoe die kontrakte met hierdie instansies onderteken is, sal ondersoek moet word.”

