News

Opvolg: Ronel Botma moes glo aan vurkhyser hang

Me. Ronel Botma is Maandag skuldig bevind aan die moord op haar saamblyman, mnr. Tizziano Ciciliato, by hul Totiusstraathuis op 4 Februarie 2013.

Me. Botma, geklee in wit, is kort voordat sy skuldig gepleit het op die moordklag, deur haar prokureur, mnr. Josef van Eeden, by die Hooggeregshof ingelei waar sy strak in die beskuldigdebank voor haar bly staar het.

Sy het alleen in die beskuldigdebank agtergebly, nadat haar verhoor van dié van haar medebeskuldigdes – Anna Mokwana, Dinah Mokwana, Doctor Jacob Tlou, Hendrik Chego, Tsietsi Letsebe en Mbuzo Kohza – geskei is, wat van 11 tot 22 Mei 2015 op die hofrol geplaas is.

Me. Botma het emosieloos skuldig gepleit dat sy saamgesweer het teen haar medebeskuldigdes om die voorbedagte moord te pleeg.

In haar pleitverduideliking, sê sy dat daar gedurende 1993 ‘n buite-egtelike verhouding tussen haar en mnr. Ciciliato ontstaan het, en dat sy as gevolg daarvan, met die pa van haar twee kinders geskei is.

Die verhouding het gou in stormwaters beland, maar nietemin is ‘n kind verwek wat tot die aand van mnr. Ciciliato se moord, deur hom misken is, is verduidelik.

Me. Botma sê die verbale en fisiese aanvalle wat sy en haar dogter, ‘n minderjarige wat uit die hof beveel is Maandag omdat sy moontlik as getuie geroep kon word, moes verduur, jaar na jaar bly toeneem het.

Volgens haar het sy een keer probeer om uit die huwelik te kom, maar het aangebly weens haar finansiële afhanklikheid en die feit dat hy gedreig het dat hy haar sou doodmaak.

Me. Botma was veral bekommerd oor haar dogter wat nooit alleen saam met haar pa in die huis wou wees nie.

Me. Botma sê dat daar drie dae voor sy moord, ‘n voorval in die kar was op pad skool toe waar die dogter ‘n pizza by die hotelskool moes voorberei.

Video: Botma skuldig

Mnr. Ciciliato het geweier om te stop om bestanddele vir die taak te kry, waarna ‘n argument ontstaan het, en die dogter deur hom met die vuis geslaan is.

By die skool het hy haar ook nie op die gewone plek afgelaai nie, maar honderde meter verder, tussen talle werksoekers wat die sypaadjies volsit.

Die middag is me. Botma gekastei deur die kind wat wou weet hoekom sy nooit intree tussen haar en haar gewelddadige pa nie.

Me. Botma sê die woorde het haar diep getref, omdat sy nadat die kind afgelaai is, verbied is om agtertoe te kyk om te sien of sy veilig is.

Op Saterdag, 2 Februarie, was me. Botma saam met mnr. Ciciliato by hul Mahindra handelaarskap, waar sy gevra is vir ‘n bufferskroef deur mnr. Ciciliato.

Sy het die verkeerde skroef vir hom aangegee waaroor hy ontplof het, die besigheid gesluit het, en haar vir minstens ‘n halfuur, vasgebind aan ‘n vurkyser laat hang het – die getuienis is ook tydens haar borgaansoek in Februarie 2013 aangevoer.

Sy sê die betrokke aand het hy haar ook verskeie keer met ‘n .38 rewolwer gedreig en selfs die sneller getrek.

Die volgende oggend is sy na Anna Mokwana in Mhluzi saam met haar dogter om vir die vrou R350 te gee vir ‘n kliniekbesoek.

Dit is hier waar die eerste moordplanne gesmee is, en sy later R3000 by Mokwana moes terugbedel, om ‘n deposito op die moord aan drie mans in ‘n BMW by die begraafplaas te oorhandig.

Die moord sou nie die dag plaasvind nie en Maandag, 4 Februarie, het me. Botma, Anna se suster Dinah, wat geskakel is om haar siek dogter tuis te gaan ondersteun, gevra om vir haar moordenaars te kry.

Later het twee mans by die handelaarskap opgedaag en R10 000 vir die moord gevra, wat me. Botma in die kantoor gaan haal het na ‘n kliënt ‘n deposito betaal het.

Die spreekwoordelike koeël was toe reeds deur die kerk.

Sonder om ingelig te wees oor hoe die moord sou plaasvind, het sy betaal, ‘n selfoon by die mans gevat en later die aand, toe mnr. Ciciliato onder die invloed van ‘n slaappil op die rusbank plek ingeneem het, die mans gebel en die motorhek vir hulle oopgemaak.

Sy het na vier mans in die motor gestap en die selfoon vir hulle teruggegee.

Twee ure later is sy huistoe, verseker dat hy dood is, waarna sy haar seun uit die vorige huwelik geskakel het, sonder om die huis in te gaan.

Die polisie is gekontak en mnr. Ciciliato se liggaam is gekry.

Enkele dae na die moord, het me. Botma haar betrokkenheid erken met die aflê van haar verklaring by die polisie.

Groot gedeeltes van me. Botma se pleitverduideliking is deur die staat verwerp.

Die staat aanvaar geen wesenlike en dwingende omstandighede wat daarop kan dui dat me. Botma verminderde toevatbaarheid kon hê nie.

Sy het erken dat sy by haar volle positiewe was en tussen reg en verkeerd kon onderskei, “maar eenvoudig net nie meer omgegee het nie”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button