Video: Dorp Kwêla toe
As Mpumalanga dorp van die jaar, gaan die Kwêla Kyknet span volgende week 'n opname maak en Middelburgers kan deel wees van die hele aksie.

‘n Komitee is plaaslik saamgestel wat die opname span sal bystaan en die voorsitter is me. Friena Scholtz.
Sy het hierdie week gesê dat skole, organisasies en persone moet wegspring en windpompe moet maak uit enige afvalmateriaal. “Die idee is dat hulle nié goed gaan koop nie, maar die wimpompie maak uit dit wat tot hul beskikking is by hul huise.”
Die HTS Middelburg se windpomp is byna voltooi en sal tydens die opnames by die ingang van die skool geplaas word. Hulle daag die ander skole op die dorp uit om ook windpompe te maak, waarop ‘n bord met ons dorp se naam pryk, en uit te stal.
‘n Span beoordelaars sal kyk na die windpompe, waarna die wenner tydens die “OldBoys” dag aangekondig sal word. Die wenner ontvang R2 500.
Volgende Woensdag, tydens die hoofopnames, word daar beplan om in samewerking met Afgri, ‘n optog deur die dorp te hou. Die plan is dat John Deere trekkers die optog vergesel en dat die verskillende skole deel van die optog en natuurlik opname sal uitmaak.
Donderdag en Vrydag sal daar onder andere opnames wees by die Broodboom Voetslaanpad, by die Konsentrasiekamp Kerkhof en die Witkerk. Dr. Kobus Terblanche en Yolandi van Rooyen sal dan meer vertel oor ons dorp se geskiedenis.
‘n Onderhoud sal ook gedoen word met rdl. Rehana Pilodia, waartydens sy onder meer sal vertel van die Steve Tshwete Munisipaliteit se skoon oudit en hul werksaamhede.
•Saterdag tydens die OldBoys rugbydag by die Kees Taljaard stadion sal die Dorp van die Jaar ook deurentyd bemark word. ‘n Program van die dag word elders gepubliseer.
• Skole, organisasies en persone wat wil inskryf vir die windpompkompetisie, óf deel wil uitmaak van die optog, kan me. Scholtz bel by 082 780 8439.
