News

Optog deur dorp

Die dorp het sy beste Sondagpakkie uit die kas gehaal, sy vere reggeskud en storm voort om as Dorp van die Jaar gekroon te word.

Middelburg, die dorp met ’n hart van goud, is reeds aangewys as Kwêla en KykNet se Mpumalanga wenner.

AFGRI gaan vanmiddag (Woensdagmiddag 3 Junie) met sy reuse plaasimplemente ’n optog deur die dorp hou en die filmmaatskappy, Homebrew, was oppad hierheen om ’n program te skiet.

Daar gaan onder andere gefokus word op Columbus, Middelburg se rol in die Anglo Boereoorlog, die Witkerk, die Steve Tshwete Munisipaliteit, die Loskopdam omgewing, die vliegklub en die dorp in die algemeen.

Die optog vanmiddag begin by HTS Middelburg in Viljoenstraat en eindig ook daar. Die roete gaan links in Kogelstraat, weer links in Samora Machelstraat, en dan weer links in die Cowen Ntulistraat.

Daar word gevorder tot by die KFC waar die prosessie links draai in John Magagulastraat, en reguit aan oor die Pikkie Coetzeebrug, weer links in Kogelstraat, terug na die skoolgrondhekke in Viljoenstraat.

Daar word stiptelik om 15:00 vertrek en die mikpunt is om teen 16:00 die roete te voltooi. Verskeie skole gaan deel wees van die optog.

Inwoners word genooi om langs die roete stelling in te neem.

Saterdag word die Dorp van die Jaar bemarking voortgesit by die gewilde Old Boys rugbydag, by Kees Taljaard stadion, waar daar Pumatjie rugby, ’n hondevertoning, valskermspringers, klubrugby en natuurlik HTS Middelburg en Hoërskool Middelburg se oumanne in aksie gaan wees.

Die windpompe wat ingeskryf kan word, word om 15:00 beoordeel en die wenner ontvang Saterdagaand sy R2 500 prysgeld. ’n Windpomp is die embleem van die Dorp van die Jaar kompetisie. Enigiemand kan ’n windpomp inskryf en dit Saterdag by die stadion gaan aflewer, waar ’n gazebo ingerig gaan word om dit uit te stal.

En heel gepas gaan een van die vliegtuie met rook ’n hart vorm bokat Kees Taljaard stadion gedurende die dag.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Caxton Reporter

Caxton Local Media’s readership remains the highest in the communities that it serves. The group has 123 newspapers with representation in the majority of provinces across the country and over 60 community news websites.
Back to top button