Video: Gewapende roof by Sasol
Vier mans het werknemers by die Sasol-vulstasie in Meyerstraat oorval en aangehou tydens 'n gewapende rooftog.

Die rowers, twee gewapen met 9mm pistole, het omstreeks 03:00 Dinsdag die winkel ingestorm en die kassier, opsiener en ‘n veronderstelde kliënt op die vloer neergegooi en in een van die agterkamers aangehou.
“Die een man het die werknemers en kliënt in die agterkamer aangehou terwyl twee die kluis probeer oopsny het met ‘n slypmasjien.
Die ander man het die opsiener se Sasol-baadjie aangetrek en kliënte buite weggewys, terwyl ‘n vierde man ‘n petroljoggie in die buitenste personeelkamertjie aangehou en sy selfoon en geld gesteel het,” sê mnr. Pieter Terblanche, die algemene bestuurder by die vulstasie.
Die vulstasie se interne kluisalarm het afgegaan, terwyl die rowers dit probeer oopsny het. ‘n Derde werknemer was met ete toe sy die slypmasjien hoor en het dadelik om hulp gebel, waarna MidAlarms en CSC Tactical opgedaag het.
Die rooftog het sowat 15 minute geduur en nadat die rowers nie die kluis kon oopkry nie, is hulle weg met drie geldlaaie, waarvan gelukkig net twee geld ingehad het.
“Ons wil net baie dankie sê vir MidAlarms se vinnige reaksie. Hulle het binne drie minute opgedaag met drie voertuie. Hulle was uiters professioneel en het selfs die polisie gehelp deur ‘n paar belangrike dinge uit te wys,” sê mnr. Johan Claassens, mede-direkteur van die vulstasie.
Die polisie is tans besig met die ondersoek en daar is nog geen arrestasies gemaak of verdagtes uitgeken nie.
“Die vorige dag is ‘n swart BMW gekaap. Die werknemers sê dat die rowers in ‘n swart BMW opgedaag het. Die polisie beskik egter oor al die inligting en hulle sal ons op hoogte hou,” voeg die direkteur, mnr. Matthys Schoombie, by.
Dit is duidelik op die beeldmateriaal dat die rowers konstruksie-oorpakke aanhet. Veral die een man se BUCO-baadjie staan uit en sy broek met die ironiese woorde ‘be safe, take care’.
Intussen is die werknemers terug op hulle pos, nadat hulle dadelik ná die voorval hospitaal toe geneem is waar hulle ondersoek is en medikasie gekry het. Buiten vir die opsiener wat geval en gesleep is, is niemand ernstig beseer tydens die voorval nie.
Een van die mans het nie sy balaklawa aangehad nie en indien iemand hom kan identifiseer, kontak dadelik die Middelburg Speurtak by 013 249 1440.
Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!
