Wie is vrou wat gegil het
Wie is die vrou wat vanoggend in die vroeë oggendure aanmekaar en angsbevange oor die radiogroep gegil het: “ek word aangeval, ek word aangeval, help! Help!”

Mnr. Hendrik Janse van Rensburg, voorsitter, sektor 3 radiogroep, sê die lede van die groep is al rasend van bekommernis oor die vrou.
Hulle het al verskeie kere vandat sy oor die radio geroep het, gevra dat sy moet antwoord dat hulle kan uitvind waar sy is. Tot op hede het sy egter nie geantwoord nie.
Mnr. Janse van Rensburg sê hy het nadat sy om hulp geroep het, in sy kar gespring en begin soek. “Maar waar begin jy soek? Ons sektor is groot!” Sektor 3 sluit in: Aerorand, Gholfsig, Clubville, Suid én Sentraal.
Lede van die sektorgroep weet dat wanneer hulle inroep, hulle die lidnommer moet gee. Persone wat nie lede is nie, kan ’n adres tydens ’n noodroep gee. Die vrou het egter nie een van die twee verskaf nie.
Mnr Janse van Rensburg het ook al die polisie gebel, maar tot 12:15 vandag was daar geen sake aanhangig gemaak nie.
Hy doen ’n beroep op die vrou, of ’n familielid of bure wat moontlik weet wat kon gebeur het, om asseblief die sektornommer, 076 055 7608 te bel sodat hulle kan weet of alles reg is.
•’n Onderwyser wat ook die gille gehoor het, het Woensdagmiddag gesê die gille was so erg dat hy en sy vrou hoendervleis gekry het.
